×
Skakel na Engels

10 TV-reekse wat jy nie mag misloop nie

Gun jouself ’n blaaskans met ’n bietjie drama
TV-reekse wat jy nie mag misloop nie

Een van die beste maniere om ná ’n lang dag af te skakel is om die televisie aan te skakel en ’n episode of twee van jou gunsteling-reeks te kyk. Hier is ons 10 geliefkoosde drama- en komediereekse – ’n paar nuwes en ‘n paar immergroen treffers.

1. Santa Clarita Diet 

In hierdie reeks vertolk Drew Barrymore, ons April 2017-voorbladgesig, die rol van ’n zombievrou wat ’n smaak vir mensvleis ontwikkel. Hierdie gruwelkomedie sal jou in een sitting na jou asem laat snak en laat skater. Jy het ’n sterk maag vir hierdie een nodig!

2. Big Little Lies

Hierdie dramareeks handel oor die lewe van die vroue en ma’s van Monterey. Kyk hoe die geheime van die families ontrafel en die waarheid rondom ’n tragedie week op week ontvou. Die rolverdeling is uitstekend met Reese Witherspoon, Nicole Kidman, Laura Dern en Shailene Woodly. Eenhonderd persent boeiend!

3. Being Mary Jane

Die beeldskone Gabrielle Union speel Mary Jane Paul, ’n jong joernalis wat om ’n plek in spitstyd-TV meeding. Sy werp alles in die stryd terwyl haar droom om ’n hoofnuusleser te word deur ’n enkellopende, amper veertigjarige swart vrou bedreig word.

4. Scandal (The Fixer)

Kerry Washington speel Olivia Pope, ’n voormalige mediakonsultant van die Amerikaanse president wat nou haar eie firma gestig het. Pope en haar vennote spesialiseer in die oplossing van ander mense se probleme, maar slaag oënskynlik net nie daarin om hul eie op te los nie. 

5. Grey’s Anatomy

Hierdie reeks raak nooit oud nie, selfs ná meer as tien jaar op ons skerms. Hierdie mediese drama handel oor die lewe van dokters en hul stryd om hul persoonlike lewe van hul werk te skei. Maak jou gereed om deur die verhoudings en lewe van die dokters van Seattle Grace ingetrek te word.

6. The Big Bang Theory

’n Heerlik gevatte situasiekomedie wat om sewe vriende draai: drie fisici, ’n ruimtevaarder, twee wetenskaplikes en ’n mooi kelnerin. Geniet die bleeksielige wetenskaplike verwysings en goedige gespot met die obsessiewe hipochondriese Sheldon Cooper.

7. Suits

Hierdie boeiende regsdrama is ideaal vir ’n marathonkyksessie. Mike Ross, ’n opskopper wat nooit regte geswot het nie, werk vir Harvey Specter, een van die beste advokate in New York. Kyk hoe die tweemanskap hulself uit netelige situasies losdraai. 

8. Shameless

Die Gallaghers is die toonbeeld van ’n wanfunksionele familie. Hul alkoholiese pa weier om die werklikheid raak te sien terwyl sy kinders swaarkry. 

9. Downton Abbey

Hierdie historiese periodedrama handel oor die Crawley-familie wat skielik uitvind dat Downton Abbey deur ’n buitestander geërf gaan woord. Familietwiste en leuens het ’n manier om hulle in te haal.

10. Orange is the New Black

Hierdie reeks fokus op die lewe van vroulike gevangenes in die Litchfield-gevangenis. Kyk na die vroue se stryd om by ’n lewe agter tralies aan te pas en hoe sommiges beplan om te ontsnap.

FOTO: iStock/martin-dm

LEES OOK: 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief