×
Skakel na Engels

10 tuis-ondersoeke wat elke vrou moet doen

Wat jy tuis kan doen om seker te maak alles is nog oukei. Deur Sophie Goddard
tuis-ondersoeke

Naas ’n gebalanseerde dieet en gereelde oefening is gereelde ondersoeke ’n moet as jy gesond wil wees. In sekere gevalle moet jy ’n afspraak met jou dokter maak, maar daar is eenvoudige ondersoeke wat jy self by die huis kan doen om te verseker dat jy gesond bly. Ons het met kenners gaan gesels oor die tien ondersoeke wat elke vrou tuis kan doen.

1. Tandvleis

Volgens dr. Richard Marques of Wimpole Street Dental is ’n tandvleisondersoek heel eenvoudig. “Tande moet dikwels deur ’n tandarts en met die hulp van X-strale ondersoek word, maar jou tandvleis kan jy self ondersoek: Voel van jou tande los sedert ’n vorige ondersoek? Bloei jou tandvleis nadat jy jou tande geborsel of geflos het? 

Los tande of tandvleis wat bloei kan dui op peridentitus (inflammasie van die tandvleis). Gaan spreek dadelik ’n tandarts.” Wees ook op die uitkyk na knoppies op die tandvleis, naby die wortel van die tand. “Dit kan op ’n abses of chroniese infeksie dui. Voel gereeld met jou tong of vinger vir enige veranderinge aan jou tandvleis nadat jy jou tande geborsel het.”

2. Sagte weefsel

Dié ondersoek word ook in jou mond gedoen, verduidelik dr. Marques. “Een keer ’n week, nadat jy jou tande geborsel het, gaan die binnekant van jou mond na. Staan voor die spieël en maak jou mond oop. Wees op die uitkyk na wit kolle aan die binnekant van jou wange (dit kan lichen planus wees, ’n siekte wat meer gereeld onder vroue voorkom en waarvoor behandeling soms nodig is). 

Voel ook met jou vingers aan die binnekant van jou wange vir enige knoppies, wat kan dui op ‘n vitamientekort en selfs kanker in die mond. Kyk laastens uit na klein seertjies of blasies op die lippe. As dit ná twee tot drie weke steeds sigbaar is, raadpleeg jou dokter, aangesien dit velkanker kan wees.

3. Kakebeen

“Jou temporomandibulêre gewrig (TMG) staan ook bekend as die koeëlgewrig, wat beteken dat dit op en af en heen en weer kan beweeg,” verduidelik dr. Marques. “Dié gewrig is meer kompleks as ander gewrigte. As jy ‘n klikgeluid hoor wanneer jy jou kakebeen beweeg, kan daar fout wees.

“Plaas ’n vinger aan weerskante op jou kakebeen, net voor jou ore, en maak dan jou mond oop en toe beweeg jou kakebeen stadig heen en weer. As jy ’n klikgeluid hoor of voel, kan dit beteken dat jy ’n probleem het: Dalk kners jy snags op jou tande, jy het dalk artritis of ’n ernstiger probleem in die gewrig van jou kakebeen. Dit sal dan nodig wees om jou tandarts te gaan spreek.”

4. Borste

Daar is nie ’n regte of verkeerde manier om jou borste te ondersoek nie, maar dis belangrik dat jy dit gereeld (minstens een keer ’n maand) en deeglik doen, sê dr. Luke Powles, ’n algemene praktisyn by die Bupa Crossrail Health and Dental Centre.

“Staan voor ’n spieël met jou skouers teruggetrek, jou arms aan jou sy (vir baie vroue is dié ondersoek makliker nadat hulle gebad of gestort het, wanneer die vel sag en klam is). Ondersoek jou borste vir enige veranderinge – dit kan ’n veranderinge in kleur, vorm, ’n knoppie, onlangse asimmetrie, vervorming, swelling of vergroting wees. 

“Kyk of jou tepels van posisie verander het of ‘omgekeer’ is, of vir enige rooiheid of gevoeligheid (dit kan ook ’n uitslag wees) rondom die tepel. Met die duim en wysvinger van die teenoorgestelde hand, voel in ’n sirkelbeweging aan die bors, met die vingers plat en teen mekaar. Beweeg van die skouer na die bokant van die maag, armholtes en tussen die borste.

“Plaas nou jou arm bo jou kop en doen dieselfde met die ander hand. Herhaal die proses met die ander arm en hand. Dié ondersoek is nodig aangesien dié verandering in posisie soms ongerymdhede uitwys. Kyk en voel vir enige veranderinge of tekens van vloeistof – water, melk, bloed (maak seker dat jy ook die tepel self deeglik ondersoek).

“Vir die laaste ondersoek gaan lê jy op die bed en herhaal die bogaande proses. Deur jou borste te ondersoek wanneer jy staan én lê, kan jy enige veranderinge makliker opspoor.”

Hoe gouer borskanker gediagnoseer word, hoe beter – daarom is dit deur en deur die moeite werd om dié ondersoeke tuis te doen.

Lees ook: 5 slegte gewoontes wat jou borste kan laat hang

5. Urine

Hierdie is ’n eenvoudige ondersoek waarvoor daar geen verskoning is nie, ongeag hoe besig jy is. “Aangesien vroue ’n groter risiko vir urienweginfeksie het as mans, is dit belangrik dat vroue genoeg water drink (dehidrasie kan die risiko van infeksie verhoog),” verduidelik dr. Powles.

“Dis belangrik om gereeld die kleur van jou urine na te gaan – ’n ligte strooikleur wys dat jy genoegsaam gehidreer is. ’n Donkerder, meer oranje kleur dui daarop dat jy dadelik meer water moet drink.”

6. Hare en naels

“Hare wat uitval, kan op ’n groter probleem dui – soos ’n ystertekort of probleme met jou skildklier, wat meer algemeen onder vroue voorkom,” verduidelik dr. Powles. “Hare wat nie meer so welig groei nie, is ’n teken van die ouderdom, maar kan ook dui op Alopecia androgenetica, ’n toestand wat vroue laat bles word (‘Female Pattern Baldness’).

“Polistiese-eierstoksindroom kan ook die skuldige wees, veral as hare skielik op ongewone plekke groei, jy gewig aansit, aknee het, of daar veranderinge in jou maandstonde is.”

Hou ook ’n oog op jou naels, gee dr. Powles raad. “Kleurverandering kan dui op ’n ystertekort of swaminfeksie. Monitor enige veranderinge en raadpleeg jou dokter as jy nie seker is van die oorsaak nie.”

7. Maandstondes

Volgens dr. Powles is dit belangrik om op die uitkyk te wees na enige abnormale veranderinge. “Die belangrikste is om bewus te wees van bloeding tussen maandstondes en enige bloeding ná seks – dit kan op ’n infeksie of kanker van die serviks dui,” sê dr. Powles.

“Dis egter nie altyd die geval nie. As jy onlangs ’n kombinasie-pil begin neem het, kan jy bloeding in die middel van jou siklus ervaar. Dieselfde geld ook postmenopousale bloeding. Maar as jy bewus word van enige veranderinge in jou siklus wanneer jy op die pil is, of ’n afskeiding wat dik is en ’n reuk het, raadpleeg so gou moontlik jou dokter.”

8. Moesies

Dr. Anjali Matho, ’n dermatoloog, verduidelik: “Die voorkoms van velkanker het sedert die 1970’s met bykans 300% toegeneem, en enige iemand wat meer as vyf keer erge sonbrand opgedoen het, verdubbel hul kans om ook velkanker op te doen.

Ideaal gesproke behoort elke mens minstens jaarliks deur ’n dermatoloog ondersoek word, maar dit help reeds as jy self maandeliks jou vel ondersoek. Boonop is dit maklik – al wat jy nodig het, is ’n paar spieëls.”

Dr. Matho stel voor dat jy op die eerste dag van elke maand (roetine is belangrik) jou vel ondersoek nadat jy gebad of gestort het. “Staan onder ’n skerp lig voor ’n vollengtespieël. Kyk van bo na onder – bors, arms en bene – of jy enige nuwe moesies of ander veranderinge op jou vel sien. Gaan sit en ondersoek ook jou voetsole en tussen jou tone. Draai om en ondersoek ook jou rugkant met ’n handspieël.

“Wees op die uitkyk na enige iets wat ‘anders’ is – die meeste mense se lyf het moesies van dieselfde kleur. As een hiervan egter ligter of donkerder is, monitor dit. Kyk vir enige groeisels wat oneweredig onder die vingers voel en ook dié wat groter as 5 mm is.

Nie elke verandering op jou vel beteken jy het kanker nie, maar die siekte kan makliker gediagnoseer en behandel word as veranderinge op die vel in ’n vroeë stadium raakgesien word.”

Lees ook: Wanneer om ’n dermatoloog te besoek

9. Soepelheid

Volgens Tim Blakey, ’n fisioterapeut en persoonlike afrigter, is daar een toets wat elke mens moet doen. “ ’n Brasiliaanse dokter het ’n eenvoudige toets ontwikkel om akkuraat te bepaal of iemand vroeg te sterwe sal kom – en al wat nodig is, is ’n bietjie spasie,” verduidelik Blakey.

“Gaan sit eenvoudig op die vloer met jou bene gekruis en staan dan weer op. Die vangplek? Jy moet dit kan doen sonder om jou hande te gebruik, teen meubels te leun, eers op jou knieë te staan of jouself op te skiet vanuit ‘n ‘flat-leg’-posisie. As jy enige van dié dinge moet doen, trek ‘n punt van tien af.”

Volgens Blakey wys navorsing dat diegene wat minder as agt punte het, meer geneig sal wees om binne die volgende ses jaar te sterf, in vergelyking met diegene wat ’n hoër telling het. Die kans van diegene met drie of minder punte om binne dieselfde tydperk te sterf is vyf keer groter.

Gelukkig is daar ook goeie nuus. “As jy sukkel om dié oefening te doen beteken dit nie noodwendig dat jy môre gaan dood neerslaan nie – dit wys bloot dat soepelheid belangrik is wanneer dit by ’n lang lewe kom. Raak dus aktief en hou aan oefen!”

10. Oë

Droë oë is een van die algemeenste oogsiektes, en danksy ’n wêreld waarin die meeste van ons heeldag lank na ’n rekenaarskerm staar, kan die simptome gou ondraaglik raak. Die oogkundige Sarah Farrant verduidelik: “Droë oë kom voor wanneer jou oë nie genoeg trane vervaardig nie, of die trane te gou opdroog. Die oë word rooi en waterig met ’n krapperigheid. Gewoonlik vererger die simptome deur die dag. Algemene oorsake is te veel tyd voor ’n rekenaarskerm, ouderdom, die dra van kontaklense, weersomstandighede en lugreëling. Dit alles maak die toestand moeilik om te vermy.”

Daar is ‘n eenvoudige manier om te bepaal of jy wel met dié probleem sukkel. Kyk reguit vir iets voor jou vir solank as moontlik. As jy ongemak ervaar, of jou oë moet knip voordat 10 sekondes verstryk het, kan daar ’n probleem wees, sê Farrant. 

Dis altyd beter om ’n oogkundige te raadpleek as jy enige ongemak ervaar, maar gereelde blaaskanse weg van jou rekenaar en oogdruppels sal ook help om simptome te verlig.

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/evgenyatamanenko

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die #1-tandeborselfout

Vind uit watter fout die meeste mense maak wanneer hulle hul tande borsel

Close