×
Skakel na Engels

10 tekens dat hy jou nooit sal verneuk nie

Dis normaal om bekommerd te wees dat jou maat miskien, net miskien, ontrou kan wees. Selfs al is dit heeltemal ongeregverdig en jul verhouding is fantasties, kan daardie soort selftwyfel by geleentheid insluip.
verneuk

1. Hy is nie selfsugtig nie.

Ontrouheid hou dikwels verband met selfsug. As hy die soort man is wat alles los en sy planne kanselleer wanneer jy hom rêrig nodig het, sal hy jou waarskynlik nie seermaak deur jou te verneuk nie. “Onbaatsugtigheid” is nie dieselfde as om net “gaaf” te wees nie. Hy kan vriendelik en dierbaar wees, en jou steeds verneuk. Aan die ander kant kan hy soos ‘n sarkastiese vark optree en absoluut lojaal wees.

2. Hy’s heel betroubaar.

As hy nie geneig is om te jok of vir dae aaneen te verdwyn nie, steek dit waarskynlik nie in hom om ‘n affair vir jou te kan wegsteek nie. Natuurlik is dit moontlik dat hy die grootste leuenaar van alle tye is, maar die moontlikheid is skraal.

3. Hy hou nie geheime nie.

As jy hom al uitgevang het dat hy ‘n reuse-geheim of twee (soos hy het sy werk verloor en dit vir twee maande vir jou weggesteek) van jou weerhou het, is daar beslis ‘n kans dat hy oor ‘n skelmpie sal kan jok.

4. Hy’s heeltemal te besig.

Tussen sy werk en studies en die “band” waarin hy speel, het hy skaars genoeg tyd om met jou uit te gaan, laat staan nog na ‘n ander vrou te vry. Plus, hy bring al sy oorblywende vrye tyd saam met jou deur. Tensy hy nooit slaap nie of ‘n tydmasjien het, is dit gans onmoontlik dat hy jou kan verneuk.

Lees ook: 6 goed oor jul verhouding wat jy nooit moet deel nie

5. Jy weet van so te sê alles wat in sy lewe aangaan.

As jy die jaloerse tipe is en bekommerd raak wanneer hy ‘n kollega noem saam met wie hy die middag geëet het, is daar waarskynlik niks om oor bekommerd te wees nie. Hy sou jou nie van iemand vertel het met wie hy iets aanhet of op wie hy ‘n ogie het nie. Dit maak nie sin nie. Hoe meer hy van sy persoonlike lewe met jou deel, hoe beter. Terselfdertyd moet jy jou nie verknies as jy nie elke kollega en/of klasmaat se naam ken nie.

6. Hy was nog nooit ontrou nie.

Om te weet dat hy ‘n skoon rekord het, is so goed soos die beste getuigskrif. “Een maal ‘n verneuker, altyd ‘n verneuker,” is nie noodwendig waar nie, maar soos jy in graad een geleer het – patrone is geneig om hulself te herhaal.

7. Jý is nie ‘n verneuker nie.

As jy jouself al aan ontrouheid skuldig gemaak het, is daar ‘n moontlikheid dat hy jou uit wrokkigheid gaan “terugkry”. Almal van ons weet van giftige verhoudings waar paartjies mekaar gedurig straf, maar ten spyte daarvan steeds bymekaar bly. As julle nie so is nie, het julle eintlik baie stof tot dankbaarheid.

8. Jy sluit hom nie uit nie.

Almal van ons het al minstens een fliek gesien waar ‘n karakter sy maat verneuk en verskonings gebruik soos: “ek wou net geliefd voel”/”jy was nie daar vir my nie”/”ons het uitmekaargedryf”/”jy was in ‘n koma” ensovoorts, ensovoorts. Of dit nou geregverdig is of nie, as hy voel dat sy behoeftes nie vervul word nie, maak dit hom kwesbaar en meer geneig om rond te kyk. Maar as julle mekaar altyd eerste prioriteit maak, sal dit nie ‘n probleem wees nie.

9. Jy het nog nooit enige waarskuwingstekens gesien nie.

Al is dit moontlik om deur ‘n ontroue man aan die neus rondgelei te word, voel baie mense terugskouend dat hulle dit eintlik moes sien aankom het. As hy nie vaag is of verdag optree of gedurig op sy foon (wat hy vir jou wegsteek) kyk nie, is daar niks waaroor jy agterdogtig hoef te wees nie.

10. Julle het ‘n gesonde sekslewe.

Daar is heelwat redes waarom jul sekslewe ‘n rukkie lank ‘n insinking kan beleef, maar as julle gereeld intiem is, gaan sy libido hom nie rondjaag nie. Hy kan nie ‘n maratonsessie met jou deurdraf en dan uitglip om dit met iemand anders te herhaal nie. Kan hy?! Ek glo nie. Om nieverwante redes …

Uit: Cosmopolitan US

FOTO: iStock/Geber86

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 goed oor jul verhouding wat jy nooit moet deel nie

Party dinge moet regtig net privaat bly

Close