×
Skakel na Engels

10 Stappe om Finansieel Fiks te Word

Volg dié praktiese wenke van Michelle Dickens, besturende direkteur van die geregistreerde kredietburo TPN, om jou geldsake in orde te kry

 

 

Jy hoef jouself nie al die dinge te ontsê waarvan jy hou en wat jy wil hê nie. Jy moet net slim wees oor wat, hoe en wanneer jy koop:

 

1. Bou ’n kredietrekord. Open ’n rekening by ’n winkel of kry ’n kredietkaard met ’n lae kredietperk. As jy geen kredietgeskiedenis het nie, weet finansiële instellings nie watter soort risiko jy inhou nie. Gevolglik sal hulle meer rente vra totdat hulle ’n beter idee van jou kredietgedrag het.

 

2. Doen loer-inkopies pleks van regte inkopies. Ja, regtig! Navorsing toon die grootste plesier in inkopies lê in die antisipasie en nie die transaksie nie.

 

3. Fokus daarop om goed te koop wat regtig waarde tot jou lewe sal toevoeg en betaal elke maand die volle bedrag wat jy op jou kredietkaarte skuld. Probeer ook om nie jou begrotingsfasiliteit te gebruik tensy jy dit regtig nodig het nie.

 

4. Soek vir winskopies. Fokus weer eens op wat waarde tot jou lewe sal toevoeg. Een of twee klassieke gehalte-artikels wat jy jare lank sal dra, is byvoorbeeld ’n beter keuse as ’n klomp wat gou uit die mode sal gaan.

 

5. Betaal jou huur betyds en volledig.

 

6. Moenie jou verhuurder se eiendom beskadig nie. As ’n ongeluk plaasvind, herstel die skade, anders sal dit op kredietburo’s se databasisse wys.

 

7. Bou genoeg spaargeld vir ses maande op om jou lewenskoste te dek indien jy jou werk verloor.

 

8. Belê in ’n spaarproduk soos ’n aftree-annuïteit. Dié gedwonge manier van spaar sal keer dat jy die geld aan ander dinge bestee.

 

9. Spaar en betaal kontant vir nienoodsaaklike artikels soos vakansies.

 

10. Betaal groot aankope soos ’n motor oor ’n korter eerder as ’n langer tydperk af. Hoe langer jy neem om iets af te betaal, hoe meer kos dit jou op lang termyn.

 

Om uit te vind hoe kredietfiks jy is, vul die vraelys by Getcreditfit.co.za in. Die doel van die Get Credit Fit-inisiatief is om Suid-Afrikaners in te lig en te bemagtig om beheer van hul kredietgedrag te neem.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 wenke om tot betaaldag te oorleef

As jy platsak is en elke sent moet omdraai tot betaaldag, probeer ons topwenke om die volgende twee weke te...

Close