×
Skakel na Engels

10 selfdoen-toedraai-idees vir Kersgeskenke

Gee jou geskenke ’n ekstraspesiale voorkoms met hierdie kreatiewe, bekostigbare toedraai-idees

1. Natuurlik mooi:

Maak dennebolle, bessies en klein stukkies groenigheid bymekaar om hierdie eenvoudige dog gesofistikeerde voorkoms te skep. Begin deur die geskenke in effekleurige of bruinpapier toe te draai en rond dit met tou of kleurryke linte af. Gebruik ’n gomgeweer om jou versierings aan die pakkies vas te heg.

2. Fraai met foto’s:

Neem vriende en familie op ’n herinneringsreis deur ’n ou foto van die ontvanger op elke geskenk te plaas. Hoe verspotter die foto’s, hoe beter! As jy nie die oorspronklike foto wil beskadig nie, maak ’n kopie, sny dit uit en druk ’n gaatjie in die bokant waardeur jy ’n stukkie lint of tou kan ryg.

3. Blikke vol pret:

’n Geskenk binne-in ’n geskenk! Gebruik vintage-blikke (snuffel rond by tweedehandswinkels of vintage-markte) as herwinbare verpakking vir jou Kersgeskenke. En jy hoef dit nie vol koekies te maak nie – dink buite die blik! Van neute en biltong tot kuns- en kunsvlytvoorraad of juweliersware, die moontlikhede is legio. Wenk: Druk en gebruik ons vrolike Kersgeskenkkaartjies.

4. Hoe rooier hoe mooier:

Bruin kunsvlytpapier + rooi lint + goue merkpen = fantastiese toedraai-idees! Ons is dol oor die minimalistiese voorkoms van hierdie geskenke, en jy kan met merkpenne in verskillende kleure en/of fonte speel.

5. Baldadig:

Hier is ’n slim manier om ou onpaar (of goedkoop) Kersballe te herwin. Gebruik dun draad om twee tot drie balle saam te bind en draai die draad rondom die lint wat rondom ’n geskenk gedraai is. Hou die toedraaipapier eenvoudig om jou versierings te laat uitstaan.

6. Vlytig met kryt:

Sal ons ooit moeg raak van kunsvlytidees wat deur krytbord geïnspireer is? Draai geskenke in swart geskenkpapier toe en gebruik ’n wit verfmerkpen (by kuns- en kunsvlytwinkels beskikbaar) om dit met tekeninge met ’n Kerstema te versier. Dan hoef jy ook nie geskenkkaartjies te koop nie – skryf eenvoudig “aan” en “van” op die papier.

7. In die kol:

Eenvoudig, bekostigbaar en regtig oulik! Gebruik kurkproppe en kunsverf om polkakolle op bruin kunsvlytpapier te druk. (Het jy agtergekom ons is dol oor bruinpapier? Dis so veelsydig!) Laat dit droog word voordat jy jou geskenke toedraai.

Jy kan die kolle in verskillende kleure, patrone en groottes maak – daar is nie ’n regte of ’n verkeerde manier nie. Rond die geskenke met aanplak-strikke af.

8. Speeltyd:

Hierdie geskenke lyk amper te mooi om oop te maak! Gebruik ekstradik bruinpapier om jou geskenke toe te draai (sodat die gom nie deursyfer nie) en gebruik ’n gomgeweer om klein pompons (beskikbaar by kuns- en kunsvlytwinkels) op die papier vas te plak.

Bind tou rondom die pakkie en voilà! Wenk: Gebruik ons prettige Kersboomkaartjies van verfmonsterstrokies saam met die geskenke.

9. Spatkuns:

Kyk hoe funky is hierdie geskenkpapier met verfspatsels! En dis baie maklik om te maak. Bedek ’n werkplek met ou koerante en plaas bruin kunsvlytpapier bo-op. Neem nou wit (of enige ander kleur) akrielverf en ’n verfkwas en laat jou innerlike Jackson Pollock los.

Voeg ’n bietjie water by om die verf te verdun as dit te dik is. Laat die verf droog word voordat jy jou geskenke toedraai. Rond die geskenk af met linte, strikkies en geskenkkaartjies.

10. Spel dit uit:

Hier is ’n manier om jou persoonlike stempel op die geskenke af te druk wat in – ja, jy het reg geraai – bruinpapier toegedraai is. Druk die voorletters van vriende en familielede se name uit en sny dit uit om as stensils te gebruik.

Trek die letters op ou bladmusiek of die bladsye van ou boeke af. (Kyk by markte of tweedehandswinkels vir ou, verrinneweerde boeke.) Sny dit uit en plak op die geskenke vas. Bind feestelike slagterstou rondom die geskenke.

LEES OOK

5 wonderlike webwerwe vir gratis Kersfees-template

10 (regtig maklike) selfdoen-Kersdekoridees met blinkertjies

Maak dié vrolike Kersversierings

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die kulgids tot ’n Kersmaal

Bring hierdie Kersfees minder tyd in die kombuis deur

Close