×
Skakel na Engels

10 ongewone allergieë wat jy kan hê sonder dat jy dit besef

Jy het dalk nie aan hierdie minder ooglopende allergieë gedink nie. Deur Martha Roberts
ongewone allergieë

Het jy ’n allergie? Jy’s nie al een nie. Algemene allergene is onder meer stuifmeel en sekere kosse, soos grondboontjies. Maar daar is ook ongewone allergene wat jy nie sou dink ’n allergiese reaksie kan veroorsaak nie. Hier is 10 ongewone allergieë 

1. Reinigingslappies

“Hierdie klam lappies is baie gerieflik, maar dit kan jou ’n nare uitslag gee,” sê Jane Devenish, ’n NHS-apteker by Well. “Dit bevat bestanddele om jou vel te reinig, asook preserveermiddels en parfuum.”

Hoewel baie reinigers of sepe soortgelyke bestanddele bevat, bly die residu in kontak met die vel wanneer jy die lappies gebruik omdat dit nie afgespoel word nie. Allergieë kom dus meer algemeen voor.

Wat jy daaromtrent kan doen:

“As jy reinigingslappies moet gebruik, probeer dié sonder geurmiddels of die preserveermiddel metielisotiasolinoon, want dis die mees waarskynlike sondaars,” sê Jane. ’n Reiniger wat jy met ’n afsonderlike lap afwas, is ’n beter opsie as jy wil seker maak jou vel is skoon en allergievry.

2. ’n Room of vloeiroom wat jy al lank gebruik

Jane sê mense kom dikwels apteek toe met ’n rooi, jeukerige vel wat deur ’n allergie vir vloeirome en rome veroorsaak is wat hulle al lank gebruik. “Dit kan moeilik wees om vas te stel wat dit veroorsaak het, veral omdat die uitslag soms eers ’n paar dae later verskyn.”

Allergiese reaksies gebeur wanneer jy herhaaldelik aan iets blootgestel word, maar dis nie regtig duidelik hoekom dit skielik ná ’n lang tyd gebeur nie. “Dis waarskynlik omdat jou immuunstelsel deur iets anders geaktiveer is en dan op die verkeerde middel oorreageer,” sê Jane.

Wat jy daaromtrent kan doen:

Ongelukkig sal jy moet ophou om die produk te gebruik as jy eers een keer ’n reaksie gehad het. “Dit kan nuttig wees om die bestanddele aan te teken sodat jy kan probeer uitwerk watter een die reaksie veroorsaak het,” sê Jane. ’n Antihistamientablet en steroïedroom sal die gejeuk help verlig en dit behoort binne ’n week weg te gaan.

3. Jeukwerende of antibiotiese rome

As jou vel jeuk, is jou eerste gedagte dalk om ’n room aan te smeer om dit te laat kalmeer. Maar dit kan dalk juis die teenoorgestelde uitwerking hê. “Vreemd genoeg is mense soms allergies vir die behandelings wat hulle gebruik om allergieë te behandel,” sê Jane. “Veral jeukwerende rome wat dalk ’n antihistamien of plaaslike verdowingsmiddel bevat.”

Wat jy daaromtrent kan doen:

Probeer iets anders. “As jy een van hierdie [rome] gebruik en die allergie raak nie beter nie, is ’n antihistamientablet dalk ’n beter oplossing,” sê Jane.

Lees: 5 maniere om jou huis allergievry te maak

4. Sagte speelgoed

Dit lyk dalk oulik, maar sagte speelgoed en versamelgoed kan magnete vir stofmyte wees. Dit kan ’n loopneus, gehoes en gehyg tot gevolg hê en selfs tot asma-aanvalle lei. Stofmyte hou van ’n warm omgewing, soos die meeste sagte meubels en toebehoorsels waaronder gordyne, rusbanke, beddens, matte en kussings, waar hulle van menslike veldeeltjies leef wat ons agterlaat.

“Dit is dikwels die proteïen in die mis van stofmyte wat ’n allergie veroorsaak,” sê dr. Riccardo di Cuffa, die stigter en direkteur van Your Doctor. “En hoewel jy dit kan verminder, kan dit nooit heeltemal uitgewis word nie.”

Wat jy daaromtrent kan doen:

“Was alle sagte speelgoed een keer ’n maand by 60 ºC of plaas dit in ’n sak in die vrieskas vir minstens 12 uur as dit nie gewas kan word nie,” sê dr. Di Cuffa. Gebruik allergeenbestande beskermende oortreksels vir kussings en was beddegoed by minstens 60 ºC. Kinders met allergieë moet liefs nie op die onderste deel van ’n stapelbed slaap nie, want allergene kan op hulle val.

5. Kondome

Sommige mense wat allergies vir lateks is, ontwikkel ’n irriterende uitslag wanneer hulle daaraan blootgestel word. Lateks is ’n soort rubber met ’n plantbasis en vir sommige mense kan die allergie so erg wees dat hulle ’n onmiddellike, lewensbedreigende anafilaktiese reaksie kan ontwikkel.

Meer as 6% van die algemene bevolking en ongeveer 10% van gesondheidspraktisyns is blykbaar allergies vir lateks. Volgens dr. Di Cuffa word lateksallergieë dikwels geassosieer met die chemikalieë wat gebruik word om die rubber te vervaardig. “Dit veroorsaak ’n velreaksie wat rooi kan wees en tot blaasvorming kan lei.” 

’n Meer onmiddellike, anafilaktiese reaksie kan blykbaar ook plaasvind weens die proteïeninhoud van natuurlike rubber.

Wat jy daaromtrent kan doen:

Baie items wat vroeër van lateks gemaak is, word nou van minder allergeniese materiale gemaak, maar die meeste kondome bevat dit steeds. Die ander items word van ’n sintetiese materiaal soos poli-isopreen gemaak, wat dit ’n veilige opsie maak om mense teen allergiese reaksies te beskerm.

6. Semen

Hoewel dit skaars is, het sommige vroue ’n allergiese reaksie op semen. “Dit is die liggaam se immuunrespons wat op ’n onvanpaste manier op die sperm reageer,” sê dr. Di Cuffa.

“Simptome sluit branderigheid en swelling in nadat die semen met die mukosavoering of vel in aanraking gekom het, asook netelroos en jeukerigheid.” In erge gevalle kan ’n anafilaktiese reaksie plaasvind, wat asemhalingsprobleme veroorsaak.

Wat jy daaromtrent kan doen:

Die allergie hou dikwels met een persoon verband. ’n Vrou kan dus die allergiese reaksie met een seksmaat hê, maar nie met ’n ander nie. Wanneer die allergie gediagnoseer word, is dit moontlik om gedesensifiseer te word (soortgelyk aan allergie-inspuitings) sodat paartjies allergievrye seks kan hê.

Indien nie, kan paartjies wat probeer swanger raak in vitro-bevrugting (IVB) of intra-uteriene inseminasie (IUI) oorweeg wat albei die situasie vermy waar semen met die vel in kontak kom.

7. Wol

Wol kan ’n mens dikwels laat jeuk, selfs al het jy nie ’n allergie nie. Maar sommige mense kan selfs meer met jeukerigheid sukkel weens ’n sensitiwiteit vir lanolien, ’n natuurlike wasagtige stof wat deur skape vervaardig word. “Lanolien is ’n olie wat velirritasie soos netelroos en ’n jeukerige uitslag kan veroorsaak, asook opgeswelde oë en nasale verstopping,” sê dr. Di Cuffa. Dit kan ook in kosmetiekmiddels, lipsalwe en sjampoes voorkom.

Wat jy daaromtrent kan doen:

Jy kan ’n vingerpriktoets of ’n bloedtoets laat doen om vas te stel of jy allergies is. As jy sensitief vir lanolien is, kan dit nie genees word nie, maar jy kan lanolienvrye produkte gebruik en antihistamiene en steroïede neem na gelang van die erns van die allergie.

Lees: 5 goed om vandag te doen om allergieë te klop

8. Hipoallergene honde

Daar word dikwels gesê as jy ’n hondeliefhebber met ’n allergie is, moet jy ’n poedel of poedelkruis kry. Maar dit beteken nie dat jy nie daarop sal reageer nie. “Daar is nie iets soos ’n hipoallergene hond nie,” sê dr. Chris Rutkowski, ’n konsultant-allergis vir Doctify. “Dit gaan nie net oor allergene in die pels nie – daar is ook allergene in die vel, urine en speeksel.

Sommige mense kan vind dat hulle vir sekere honderasse allergies is, terwyl ander mense vir alle honde allergies is, en dit maak nie saak of hulle ’n ras kies wat nie veel hare verloor nie. Jy sal nie weet totdat jy weet nie!

Wat jy daaromtrent kan doen:

As jou allergie jou baie pla, kan jy immuunterapie-inspuitings probeer, waar jy oor die verloop van vier tot vyf maande ’n klein dosis kry van waarvoor jy allergies is. Maak intussen seker jy was jou hande deeglik elke keer nadat jy aan troeteldiere gevat het, byvoorbeeld wanneer jy hul pote skoongemaak het nadat hulle in grond gegrawe het of hulle gewas het nadat hulle in ’n dam geswem het. En hou jou troeteldier se pels skoon.

9. Tatoeëermerke

Tatoes het die laaste paar dekades al hoe gewilder geword. In studies is bevind dat die rooi pigment die meeste allergieë veroorsaak. Tradisioneel was dit weens die teenwoordigheid van kwik en sulfiede, maar deesdae is dit weens nuwe organiese pigmente (naamlik Pigment Red 181 en Pigment Red 170). Party mense kan selfs ’n reaksie op swart hennakleursel hê wat in tydelike tatoes gebruik word.

Wat jy daaromtrent kan doen:

Verlaag die risiko van ’n reaksie deur jou tatoe in ’n skoon plek met ’n goeie reputasie te laat doen, en laat doen ’n koltoets op jou vel minstens 24 uur voordat jy beplan om die volle ontwerp te laat tatoeëer. “Onthou, sommige reaksies sal dalk eers jare later verskyn,” sê dr. Rutkowski. “As jou tatoe anders begin lyk of voel, gaan sien jou dokter.”

10. Kunsnaels

Produkte soos naelgom, naellak en akrielnaels kan ná blootstelling kontakdermatitis veroorsaak, maar dis nie altyd duidelik dat die naels die sondaar is nie. “ ’n Vrou kan aan haar gesig raak en daar ’n uitslag kry weens ’n produk wat sy op haar naels gebruik, selfs al is daar nie ’n uitslag op haar hande nie,” sê dr. Ru. “Nie net dit nie, maar ’n nikkelallergie kan soos dermatitis op die gesig lyk omdat ons baie keer gedurende die dag aan ons gesig raak.” 

Wat jy daaromtrent kan doen:

As jy ’n allergie vir naelkosmetiekmiddels het, is die beste manier om enige probleme te voorkom deur alle produkte te vermy wat die allergeen bevat waarvoor jy sensitief is. Hipoallergene naellak waarin poliësterhars of sellulose asetaatbutiraat gebruik word, kan ’n alternatief wees, maar sensitiwiteit is steeds moontlik.

Hierdie alternatiewe is ook minder duursaam en krapbestand as naellak wat met tosielamied-formaldehiedhars gemaak is. Jou dermatoloog kan nog spesifieke raad hê, veral as jy hoogs sensitief vir allergene in naelkosmetiekmiddels is.

Van: Netdoctor UK

FOTO: iStock/champja

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 goed om vandag te doen om allergieë te klop

Hierdie wenke sal jou minder laat nies gedurende die warmer seisoene

Close