×
Skakel na Engels

10 noodartikels wat jy altyd in jou huis moet hê

Hierdie 10 goed moet altyd in jou huis wees.
noodgeval

Is jy voorbereid vir enige noodgeval in (en om) jou huis? Maak seker jy het altyd hierdie 10 dinge om jou gesin (en jou troeteldiere) veilig te hou.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. ’n Noodhulpkissie

Sorg dat dit die basiese bevat: pleisters, verbande, latekshandskoene, ’n salf vir brandwonde, ’n antibiotiese salf, handreinigers, sonskerm en ’n skêr.

2. Medikasie

Behalwe vir die inhoud van jou noodhulpkissie moet jy ook ekstra voorskrifmedikasie byderhand hou ingeval jy om een of ander rede nie by die dokter of apteek kan uitkom om jou voorskrif te hernu nie. Maak ook seker jy het genoeg pynstillers, antihistamiene en kontaklense (en kontaklensoplossing) indien jy dit gebruik.

3. ’n Brandblusser

Pleks van beplan wat jy sal gryp wanneer jou huis brand, tref voorsorg deur in ’n brandblusser vir jou huis te belê.

4. Vuurhoutjies en kerse

Geen krag beteken geen ligte nie; vuurhoutjies en kerse is die vinnigste (as jy dit maklik binne bereik bêre) en goedkoopste oplossing vir dié probleem.

5. ’n Flits en batterye

Selfs al het jy kerse en vuurhoutjies, kan jy nie ’n fout maak deur ’n gehalte-flitslig en batterye as ’n plan B te hê nie.

6. Blikkieskos (en ’n blikoopmaker)

Hou minstens drie dae se nie-bederfbare kos, soos geblikte groente, vleis en vrugte, in jou koskas, asook energiehappies. En moenie die blikoopmaker vergeet nie! 

7. Troeteldierkos

Jou dierekinders se welstand is net so belangrik soos joune. Maak seker jy het genoeg troeteldierkos en water vir jou diere, en enige medikasie wat hulle mag nodig hê.

8. ’n Fluitjie

Ja, regtig. As jy vasgekeer is en iemand se aandag moet trek, kan dié instrumentjie jou lewe red.

9. Ekstra komberse

’n Paar ekstra komberse sal jou help om in ekstreme gevalle, wat deur koue of nat toestande vererger kan word, warm te bly.

10. ’n Lys met noodnommers en afskrifte van dokumente

Om ingelig te wees of dié inligting aan iemand te kan oordra, kan jou veilig help hou. Maak seker jy het ’n kontaklys met al die nodige inligting en nommers daarop en dat dit altyd vir almal in jou huis beskikbaar is.

Maak seker dié besonderhede is op die lys:

  • Dokter (telefoonnommer en adres)
  • Tandarts (telefoonnommer en adres)
  • Veearts (telefoonnommer en adres)
  • Jou naaste ongevalle/hospitaal
  • Polisie, ambulans, buurtwag
  • Alarmmaatskappy
  • Water- en elektrisiteitverskaffer
  • Slotmaker

Sorg ook dat jy afskrifte het van jou ID, bestuurlisensie, paspoort, versekeringsdokumente en jou testament, asook ’n lys van jou bankrekeningnommers en -besonderhede.

Foto: iStock/iTle

LEES OOK: 

Die een botteltjie waarsonder geen noodhulpkissie behoort te wees nie

11 alledaagse noodsaaklikhede wat ons almal in ons handsakke moet hou

3 noodnommers wat alle Suid-Afrikaners moet ken

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
15 goed wat jy in jou vakansienoodhulpkissie móét pak

Moenie dat ’n hoofpyn of insekbyt jou vakansie ruïneer nie!

Close