×
Skakel na Engels

10 maniere om gelukkiger oor die lewe te voel

Die psigoterapeut en skrywer van ‘Get the Happiness Habit’ praat oor die gewoontes wat mense help om gelukkiger te wees. Deur Christine Webber
maniere om gelukkiger oor die lewe te voel

Die werklikheid is dat ons álmal kan leer om gelukkiger te wees. Geluk kan ’n gewoonte word, net soos enige ander gewoonte, van oefening tot om meer groente te eet. Moet egter nie te streng met jouself wees nie: Moenie verwag dat jy dit oornag sal regkry nie. Maar as jy daaraan werk, kan jy beslis meer opgewek wees.

Lees hier hoe jy meer geluk in jou lewe kan geniet:

1. Herken geluk wanneer dit gebeur

Wanneer dinge in ons lewe skeefloop, kyk ons dikwels terug en sê: “Ek besef nou ek was gelukkig voordat dit alles gebeur het. Hoekom het ek nie die lewe geniet toe ek die kans gehad het nie?” Is dit nie hartseer nie? Dis ’n feit dat die lewe vol kinkels is, maar om gelukkig te wees moet ons die goeie tye ten beste benut. Maak ’n punt daarvan om te erken wanneer jy gelukkig voel sodat jy dankbaar daarvoor kan wees en dit geniet.

2. Wees aktief

Dis baie moeiliker om tevrede te voel wanneer jy swaar en onfiks voel. Daar is bewys dat ons beter sal voel wanneer ons oefen. Maak dus tyd daarvoor. Wetenskaplikes vertel ons al dekades lank dat ons liggaam meer “goedvoel”-chemikalieë – endorfiene – produseer wanneer ons aktief is.

En meer onlangse navorsing laat baie kenners glo dat gereelde oefening ons bui amper net so doeltreffend soos antidepressante kan verbeter. Of jy nou kies om vinnig te gaan stap, ’n dansklas by te woon of sommer net saam met jou kinders in die tuin ’n bal te skop, jy sal vind dat as jy meer beweeg jou slegte buie makliker sal verdwyn.

Lees ook: 3 maniere om oefening by die werk in te pas

3. Moenie dat slegte oomblikke jou hele dag bederf nie

Jy hoef nie die hele tyd ’n sonstraaltjie te wees nie, maar dis belangrik om te weet dat almal hoogte- en laagtepunte beleef. Dis ’n deel van die lewe. Soms gebeur dinge en die beste manier om dit te hanteer, is om dit in perspektief te plaas.

As jou trein dus gekanselleer word, of as dit reën wanneer jy nie ’n sambreel by jou het nie, of jou span verloor ’n wedstryd, moenie dat die teleurstelling jou hele dag ruïneer nie. Dis natuurlik om tydelik vies of bedruk te voel, maar neem ’n besluit en beweeg aan.

4. Wees bewus van ander

Dis baie moeilik om waarlik gelukkig te wees as jou motto is om net jouself in ag te neem. Selfgesentreerde mense is geneig om bitter, geïrriteerd en onaangenaam te wees.

Om gelukkiger te wees is dit belangrik om ’n deel van die wêreldgemeenskap te wees. Raak bewus van ongelykhede en probeer om by vrywilligerprojekte betrokke te raak. Navorsing toon vrywilligerwerk is fantasties om jou gemoed en gevoel van voldaanheid te verbeter.

5. Eet gesond

Baie ongelukkige mense keer hulle tot gemorskos om beter te voel. Dié gevoel hou egter nie lank nie. Gelukkige mense is egter bewus daarvan dat hulle verantwoordelik vir hul eie liggaam en gedagtes is, en hulle doen gewoonlik moeite om reg te eet om so gesond as moontlik te wees.

Lees ook: 5 maniere om met jou kinders oor gesonde kos te praat

6. Maak tyd vir vriende en familie

Dit maak nie saak hoe besig jou lewe raak nie, dis noodsaaklik om die belang van ’n sterk sosiale netwerk raak te sien. Kenners van geluk stem saam dat interaksie met mense na aan ons ’n basiese vereiste vereiste vir voldaanheid is. En daar is al hoe meer navorsing wat daarop dui dat mense met goeie, ondersteunende verhoudings met vriende en familie geneig is om gesonder te wees en langer te lewe.

7. Dóén dit

Ons moet almal dinge doen wat ons haat. En ons ervaar almal terugslae wanneer ons iets probeer bereik wat ons graag wil hê. Maar dis belangrik om iets te ontwikkel wat sommige sielkundiges ’n hoë frustrasietoleransie – of HFT – noem.

In ’n neutedop: Leer vir daardie eksamen pleks van vir die beste te hoop. En al haat jy dit, moenie daardie belastingvorm tot op die nippertjie los nie, want jy weet jy sal verlig voel wanneer dit klaar is. Vermy dit om dinge uit te stel – doen eerder alles in jou vermoë om die potensiaal vir toekomstige frustrasie tot die minimum te beperk. Maak jou nuwe lewensmotto “Doen dit net!”

8. Neem verantwoordelikheid

Wanneer dinge skeefloop, moenie rondstaan en mompel “iemand moet iets doen” nie. Werk self uit wat jy omtrent die probleem kan doen. Dit beteken nie jy kan nie vriende of selfs ’n terapeut se raad vra nie. Maar moenie terugsit en verwag dat iemand anders dinge wonderbaarlik beter sal maak nie.

9. Kry perspektief

Beheer jou bekommernisse deur dit as ’n deel van die lewe se hoogte- en laagtepunte te beskou eerder as om daarop vas te haak en dit in ’n krisis te omskep. Jy kan dit doen deur seker te maak jy het ’n breër visie van die wêreld, en van groter kwessies.

Probeer byvoorbeeld om jou eie probleem teenoor dié van die duisende vlugtelinge te stel wat uit oorlogsgeteisterde lande probeer vlug. Of vergelyk jou huidige probleem (soos dat dit tydens jou kind se verjaadagpartytjie reën) met ’n vriendin s’n wat onlangs ’n meer beduidende trauma beleef het (soos die dood van ’n geliefde).

Doen jou bes om verskillende maniere te gebruik om jou stres te ontlont. Dit is belangrik om troos te soek in iets waaroor jy dol is, soos kuns, musiek, lees, stap, sportdeelname of om jou vriende gereeld te sien. Met ander woorde: Hou dinge in perspektief.

10. Kyk vorentoe

Baie volwassenes gee hul ouers of hul skoolopvoeding die skuld vir verskillende probleme. Maar dis noodsaaklik om te besef jy mors jou tyd, want jy kan nie die verlede verander nie; jy kan net verander hoe jy daaroor dink.

Moenie by jou eie foute vashaak nie; erken eerder dat ons almal verkeerde oordele fel. Neem ’n besluit om nie weer dieselfde fout te begaan nie en fokus dan jou energie op die toekoms.

Van: NetDoctor UK

FOTO: iStock/monkeybusinessimages

LEES OOK: 

3 maklike joga-oefeninge wat jou sal laat glimlag

Vier vinnige oplossings vir stres

Blykbaar is dít die belangrikste gesinswaarde om jou kinders te leer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hierdie video sal jou dag maak

Dink net, wat sal jy doen as jou OTM (ATM) in ’n Automatic Thanking Machine verander? Dis wat ’n Kanadese...

Close