×
Skakel na Engels

10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

Hoe om op hierdie onaangename uitgawe te bespaar
Motorversekering

Motorversekering is iets wat alle motoreienaars nodig het om hulself teen die hoë koste van potensiële skade, verlies en diefstal te beskerm. Het jy geweet dat amper 66% van alle voertuie op ons paaie nie verseker is nie?

Volgens insurance.co.za vereis banke en finansiële instellings dat jou motor omvattend verseker is wanneer jy om finansiering aansoek doen. Indien nie, en sou jou motor in ’n ongeluk afgeskryf word, sal jy steeds die oorblywende paaiemente moet betaal – sonder ’n motor om daarvoor te wys.

Noudat jy weet hoe belangrik motorversekering is, kan jy die volgende wenke in gedagte hou:

1. Doen jou huiswerk

Vergelyk minstens drie versekeringsmaatskappye se kwotasies of vra ’n makelaar om dit namens jou te doen.

2. Verhoog jou bybetaling

Deur die bybetaling op jou voertuig te verhoog, sal die meerste versekeraars jou afslag op jou premie gee. Maak egter seker dat jy die bybetaling kan bekostig wanneer jy die dag moet eis.

3. Moenie jou motor vir sakedoeleindes gebruik nie

Indien moontlik, verseker jou motor vir privaat doeleindes. Besigheidsgebruik sal ’n hoër maandelikse premie beteken. Motorversekeringsmaatskappye sal jou egter steeds ’n verlaagde premie aanbied as jy jou motor slegs by geleentheid vir besigheid gebruik.

4. Bestuur veilig 

Indien jy nie by enige motorongelukke betrokke is nie, sal jy ’n verlaagde premie betaal. By sekere versekeraars sal jy ná elke eisvrye jaar vir afslag kwalifiseer. Indien nie, kan jy dit oorweeg om ’n ander versekeringsmaatskappy vir ’n beter premie te nader. 

5. Koop ’n laerisikovoertuig

Hoëprestasievoertuie word gewoonlik as ’n hoër risiko beskou (veral as jy jonger as 25 is). Die vervangkoste van onderdele is ook hoër.

6. Neem jou adres in ag

As jy in ’n hoërisikobuurt of ’n stad woon, sal jy waarskynlik ’n hoër premie op jou motorversekering betaal aangesien daar ’n groter waarskynlikheid is dat jou motor gesteel of gekaap kan word.

7. Indien moontlik, moenie in die straat parkeer nie

’n Voertuig wat in die straat geparkeer is, staan ’n groter kans om gesteel te word as een wat in ’n motorhuis toegesluit is. Sommige versekeringsmaatskappye sal jou afslag gee as jou voertuig snags in ’n motorhuis of agter ’n hek geparkeer is.

8. Verhoog sekuriteitsmaatreëls

Installeer ’n teenkapingstoestel, ratslot of sporingstoestel in jou motor. As jou sekuriteitsvlak hoër as die versekeringsmaatskappy se vereistes is, sal jy afslag ontvang.

9. Nomineer bestuurders

Indien daar minder mense is wat jou motor bestuur, mag jy dalk ’n laer maandelikse premie betaal. Dit maak dit makliker vir die versekeringsmaatskappy om hul risiko te bereken.

10. Onderhandel

Die meeste versekeraars is bereid om te onderhandel wanneer dit by premies kom. As jy nie heeltemal tevrede met die kwotasie is nie, staan dit jou vry om vir afslag te vra. Na gelang van of jy in Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Bloemfontein, Durban of Putsonderwater woon, mag jou verskeringspremie dalk verlaag word.

Van: WOW

FOTO: iStock/Georgijevic

LEES OOK:

6 wenke vir wanneer jy huisversekering kies

5 redes om ’n nuwe motor te koop

5 wenke om geldsake in jou verhouding te bestuur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 gewoontes van ’n goeie bestuurder

Om ’n goeie bestuurder te wees beteken dat jy nie net takties nie, maar ook veilig moet bestuur ...

Close