×
Skakel na Engels

10 Kersfeeswenke van Suzelle DIY

Want enige iemand kan!
Kersfeeswenke van Suzelle DIY

Kersfees is ’n wonderlike tyd om kreatief te raak! Suid-Afrika se geliefkoosde selfdoendiva Suzelle deel 11 feestelike geskenk- en dekorprojekte wat jy by die huis kan doen.

1. Verefantasie

vere

Hierdie glinsterende versierings lyk alte feestelik en is boonop baie maklik om te maak.

Wat jy nodig het: ’n Verfkwassie, deursigtige gom, verskillende kleure vere (by kunsvlytwinkels te kry) en blinkers.

Maak dit: Verf gom met die kwassie op die deel van die veer wat jy met blinkers wil bedek. Sprinkel dadelik blinkers oor en laat dit droog word. Skud die oortollige blinkers af. Meng die oorskietblinkers om die laaste paar vere ’n bont voorkoms te gee.

2. Koue pampoen

pampoen

Gebruik dié mannetjie om jou voordeur oop te hou en ’n bietjie Kersvreugde te verskaf.

Wat jy nodig het: Drie pampoene (klein, middelslag en groot), wit spuitverf, ogies (by kunsvlytwinkels te kry), ’n permanente merkpen en bykomstighede.

Maak dit: Spuit die pampoene wit en laat droog word. Plak die oë op, teken ’n glimlag en trek hom vrolik aan.

3. Vasgepen

wasgoedpennetjie karns

’n Feestelike krans sorg vir ’n vrolike stemming en as dit mooi goud en glansryk soos dié een is, sal jy dit heeljaar wil laat hang!

Wat jy nodig het: Houtpennetjies, grondlaagspuitverf, spuitverf in enige kleur, ’n klein borduurraam waarvan die binneste ring verwyder is, en lint om om die raam te draai en ’n lussie mee te maak.

Maak dit: Spuit die pennetjies met grondlaagverf en laat droog word. Spuit die pennetjies met die kleurverf (Suzelle het Rust Oleum Speciality Metallic in Gold gebruik) en laat droog word. Draai die raam met lint toe en vorm ’n lus om dit aan op te hang. Knyp die pennetjies om die raam vas en versier dit met ’n Kersfeesbal as jy wil.

4. Laat jou boom blom

blom balle

Gee jou Kersboom vanjaar ’n tikkie persoonlike flair met Kersballe wat jy self gemaak het.

Wat jy nodig het: Polistireenballe, sosatiestokkies, ’n glas, ’n verfkwas, PVA-verf, gekleurde karton, ’n blomuitdrukker, lint, kopspelde, deursigtige gom en tou.

Maak dit: Steek ’n stokkie in elke bal en laat dit in ’n glas balanseer. Verf die balle en laat droog word. (Twee lae is genoeg.) Druk blomme uit die karton uit. Draai lint om elke bal en steek dit met spelde vas (steek telkens ook ’n blom saam vas). Gebruik gom en ’n speld om ’n lussie van tou vas te heg.

5. Raak kreatief met kiekies

foto geskenkpapier

Verras jou familie en vriende deur van hul Facebook-foto’s te gebruik om jou eie geskenkpapier te maak.

Wat jy nodig het: Verskeie foto’s en ’n drukker.

Maak dit: Laai foto’s op ’n gratis fotoredigeerwebwerf soos www.picmonkey.com en maak ’n collage. Druk dit uit en draai jou pakkies toe!

6. Vlytige vingers

sterpatrone

Jy het seker ook op kleuterskool papiersterre geleer maak? Span dié vaardigheid in om pragtige papierkuns te skep – dis ideaal om jou huis, tafel of geskenke mee te versier.

Wat jy nodig het: A4-velle papier in die kleure van jou keuse en ’n skerp skêr.

Maak dit: Gebruik die vou-en-knippatroon op www.firstpalette.com vir vier fraai sneeuvlokkievorms. Druk dit onder ’n swaar boek plat en gebruik dit waar jy wil.

7. Kleurryke kaartjies

kaartjies

Hierdie verfmonsterkaartjies is maklik om te maak en sal jou geskenke mooi opkikker.

Wat jy nodig het: Verfmonsterstrokies, ’n Kersboompatroon (besoek www.allfreeprintables.com om die patroon uit te druk), ’n skêr, ’n gaatjiedrukker en tou.

Maak dit: Teken die boompie op die agterkant van die verfstrokies af, knip dit uit en druk ’n gaatjie in die bopunt van elkeen. Ryg tou deur en maak dit aan jou pakkies vas.

8. Mooi getooi

kersballe

Ag, nee! Al jou Kersballe het hul toutjies verloor! Geen probleem nie – jy kan dit steeds as deel van jou Kersfeesdekor gebruik.

Wat jy nodig het: ’n Glasklokfles, Kersfeesballe en tinselstringe.

Maak dit: Keer die klokfles om en vul dit met Kersballe. Rol die tinsel in sirkels bo-op die balle op en keer die fles versigtig op jou eetkamer- of voorportaaltafel om vir ’n kleurryke fokuspunt.

Pak jou Kersballe net soos Suzelle weg vir volgende jaar

kersballe

Hier’s ’n vinnige en maklike plan om al daardie breekbare Kersballe weg te pak.

Wat jy nodig het: ’n Krat of boks en papierkoppies.

Maak dit: Pak die krat of boks vol papierkoppies en verdeel die balle tussen die koppies om dit veilig en maklik te bêre.

En laastens, hier is ’n maklike, bekostigbare laaste-nippertjie-geskenkidee

naaldwerkstel

Wat jy nodig het: Spuitverf, ’n 500 ml-Consol-fles, opstopsel, materiaal, materiaalgom, karton en naaldwerkgereedskap.

Maak dit: Spuitverf die fles se deksel en laat droog word. Sit opstopsel op die los deksel en trek dit met materiaal oor. Plak die lap met gom vas en gebruik die karton om die onderkant van die deksel en enige onnet garingdrade te bedek. Sit die deksel terug in sy ring en maak die fles vol naaldwerkbybehore.

LEES OOK:

Maak dié vrolike Kersversierings

10 beste aanlyn winkels vir Kersinkopies

Klop Kersfeesstres

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maak dié vrolike Kersversierings

Wys jou kunstige slag met hierdie handgemaakte boomversierings

Close