×
Skakel na Engels

10 goed wat jy oor die siekte listeriose moet weet

Wees versigtig vir hierdie bakteriële siekte wat uitgebreek het
listeriose

Op Dinsdag 5 Desember 2017 het die Departement van Gesondheid aangekondig dat daar ’n uitbreking van listeriose in Suid-Afrika is. Hierdie siekte word deur besmette voedsel veroorsaak. Wat behels die siekte en vir watter simptome moet jy uitkyk? Lees hier meer oor listeriose en hoe jy jou en jou gesin kan beskerm.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Volgens ewn.co.za is listeriose ’n ernstige maar skaars infeksie wat grootliks veroorsaak word wanneer iemand kos eet wat met die bakterie Listeria monocytogenes besmet is. Dié bakterie kom in grond, water en gewasse voor. Dit is gewoonlik in rou melk en ander suiwelprodukte teenwoordig.

2. Van die simptome sluit die volgende in: koors, ’n stywe nek, verwarring, algemene swakheid en brakings (gewoonlik deur diarree voorafgegaan).

3. Die diagnose word met behulp van ’n bloedtoets gedoen. In sekere erge gevalle kan ’n monster van rugmurgvog of urine nodig wees.

4. Hoe die siekte behandel word, word bepaal op grond van hoe ernstig dit is. Die meeste besmette pasiënte sal na verwagting binne sewe dae herstel. Pasiënte met ’n gekompromitteerde immuunstelsel (swanger vroue, babas en bejaardes) sal meer intense mediese sorg nodig hê, wat gewoonlik ’n kursus antibiotika of vloeistof deur ’n binneaarse drup insluit.

5. ’n Dieet van piesangs, rys, appelsous en roosterbrood (in Engels die BRAT diet genoem) en ander ongegeurde kosse wat nie die maag sal irriteer nie, word aanbeveel in die behandeling van listeriose. Dit is belangrik om gehidreer te bly deur helder vloeistowwe soos water en onversoete tee te drink terwyl jy herstel.

6. Listeriose is ’n voorkombare siekte. Hier is vier voorkomingswenke:

– Gaan altyd die vervaldatum op kosse na en eet dit voordat dié datum verstryk het.

– Pas altyd goeie higiëne in die huishouding toe, veral in die kombuis. Was jou hande gereeld en maak seker breekware en messegoed is behoorlik skoon voor gebruik.

– Moenie rou, ongepasteuriseerde melk drink nie.

– Maak seker diereprodukte soos hoender, vleis en vis word deeglik gaargemaak voordat jy dit eet. Listeria kan in koue temperature oorleef; die enigste manier om seker te maak dit word vernietig, is deur blootstelling aan uiterste hoë temperature (met ander woorde om dit behoorlik gaar te maak).

7. Volgens wat health24.com op 6 Desember 2017 berig het, is 557 gevalle tussen 1 Januarie en 29 November 2017 aangemeld, met die meeste gevalle in Gauteng. Die minister van Gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, het gesê hulle het 70 pasiënte opgespoor, van wie 36 dood is.

8. Hoewel die meeste gevalle tans in Gauteng voorkom, met 345 gevalle tot op datum, is die waarskynlikheid hoog dat die siekte in die res van die land kan versprei.

9. Die Departement van Gesondheid glo hierdie spesifieke uitbreking van listeriose is waarskynlik ’n gevolg van die besmetting van kos van plase of kosverwerkingsaanlegte, maar die bron word nog ondersoek.

10. Dr. Motsoaledi het op Dinsdag 5 Desember 2017 in ’n media-inligtingsessie gesê dat die “bron van die uitbreking tans ondersoek word, maar daar word geglo dat hierdie spesifieke uitbreking ontstaan het by ’n voedselbron vir sowel ryk as arm mense, en dat die besmettingspunte moontlik plase en kosverwerkingsaanlegte kan wees”.

FOTO: iStock/Peopleimages

LEES OOK:

5 tekens dat jou werk jou gesondheid benadeel

7 stappe vir ’n gesonde hart en brein, volgens ’n studie-ontleding

Professionele skoonmakers wys die plekke uit wat ons vergeet om skoon te maak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief