×
Skakel na Engels

10 goed wat jy moet weet voordat jy vir jou kind ’n bromponie koop

’n Bromponie is dalk net wat jou tiener nodig het … Deur Juliet McGuire
bromponie

Met die stygende brandstofprys sien ons al hoe meer mense op bromponies. Dit kan ’n maklike en ekonomiese manier wees waarop jou kinders op ’n daaglikse basis kan kom waar hulle moet wees. Daar is ’n magdom nuwe en tweedehandse bromponies waaruit gekies kan word, en die meeste van hulle is heel byderwets. Hier is ’n paar wenke indien jy dit oorweeg om een vir jou tiener te kry:

1. Jou kind moet ’n motorfietsleerlinglisensie hê om ’n bromponie te bestuur, en dis nie dieselfde as ’n normale motorleerlinglisensie nie. Onthou, met ’n leerlinglisensie kan hulle slegs bromponies van hoogstens 125cc bestuur, en die lisensie is vir twee jaar geldig.

2. Deesdae is die ontwerpe meer geskik vir meisies; die outomatiese ratstelsel maak dit maklik om te bestuur en die verskeidenheid stylvolle valhelms beteken dat jou tiener haar nie in ’n bonkige, outydse helm sal doodskaam nie.

3. ’n Bromponie bestuur makliker as ’n motorfiets, maar hulle is ook stadiger en het nie die soort remme waarmee motorfietse toegerus is nie.

4. Die meeste bromponies het nie ’n baie lang leeftyd nie. Hou dit in gedagte wanneer jy ’n tweedehandse een wil koop. ’n Lae mylafstand vir ’n motor is ’n hoë mylafstand vir ’n bromponie.

5. Ongeag wat jou bromponiebegroting is, moet jy ongeveer ’n R1 000 opsy sit vir ’n ordentlike valhelm. Jou tiener hoef nie noodwendig ’n volgesighelm op ’n bromponie te dra nie, maar maak seker dat die helm ’n skerm het wat hulle kan aftrek om hulle oë te beskerm. In winderige omstandighede is ’n bril nie voldoende nie. Onthou ook, dit is belangrik om ’n helm te kry wat PERFEK pas. Dis vir hulle eie veiligheid.

6. Dit is dalk ’n goeie idee om eers te huur en te kyk of die bromponieleefstyl jou kind pas.

7. Maak seker dat die bergplek onder die sitplek groot genoeg vir jou kind se valhelm is. Niemand wil met ’n valhelm onder die arm rondloop nie.

8. Indien jy ’n nuwe bromponie vir jou kind wil koop, is dit ’n goeie idee om jou oë oop te hou vir spesiale aanlyn aanbiedings. Soms gee handelaars ’n seisoensafslag van R1 000 of meer op sekere modelle.

9. Indien jy ’n nuwe bromponie koop, is dit belangrik om alles oor die waarborg of diensplan uit te vind. Die meeste handelsmerke bied ’n tweejaarwaarborg. Bromponies behoort ongeveer elke 3 000 km gediens te word.

10. As jy tweedehands koop, moet jy uitvind of die bromponie steeds onder waarborg is en of die waarborg na jou naam oorgedra kan word (dalk beter as om dit nou op jou tiener se naam te plaas). Gaan die diensgeskiedenis na – net soos by motors, het bromponies ook ’n diensboekie wat getrou ingevul moet word.

Uit: WOW

FOTO: iStock/opolja

LEES OOK:

10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

10 speelgoed wat jou kind sal help om fikser te word

 Maandelikse rubriek: Gevaar, tiener voor

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
12 doendinge vir jou en jou kroos hierdie vakansie

Jy en jou kroos sal dit ewe veel geniet!

Close