×
Skakel na Engels

10 gewoontes van ’n goeie bestuurder

Om ’n goeie bestuurder te wees beteken dat jy nie net takties nie, maar ook veilig moet bestuur …
bestuurder

Dit is maklik om in slegte gewoontes te verval; om teksboodskappe te stuur terwyl jy bestuur, nie in jou blinde kolle te kyk nie of om te vergeet om jou veiligheidsgordel te dra. Maar as jy skade aan jou motor of jouself wil vermy, is daar sekere dinge wat jy as bestuurder moet doen.

1. Hou jou foon in jou sak

Om teksboodskappe te tik of oor jou selfoon te gesels terwyl jy bestuur is ʼn gewoonte wat tot heeltemal te veel padongelukke lei. Die AA-navorsers wat breinbeelde bestudeer, het bevind dat om bloot te luister, breinaktiwiteit wat met bestuur geassosieer word, met 37% laat afneem.

Bêre jou foon en wees ’n voorbeeld vir ander bestuurders wat ’n gevaar op die pad is omdat hulle op hulle selfoon besig is.

2. Hou by die snelheidsgrens

Om die snelheidsgrens te oorskry is nie net gevaarlik nie, maar kan jou ook ʼn paar rand uit die sak jaag. Padongelukke en -sterftes, veral oor Suid-Afrikaanse vakansieseisoene, word dikwels deur motoriste veroorsaak wat te vinnig ry en dus nie vinnig genoeg op ’n gevaarlike situasie kan reageer nie. Jy kan ook swaar beboet word vir hierdie oortreding.

3. Handhaaf ’n veilige volgafstand

Wanneer ons haastig is, vergeet ons dikwels dat daar ’n gaping van twee tot drie sekondes tussen ons en die motor voor ons moet wees. Maar om ’n veilige afstand te handhaaf, kan jou in meer as een situasie beveilig. Dit kan eerstens voorkom dat jy in die motor voor jou vasry indien die verkeer onverwags tot stilstand kom.

En met die hoë risiko van kapings in Suid-Afrika bied dit jou die geleentheid om uit te swenk en sodoende ’n gevaarlike situasie vry te spring.

4. Skakel jou kopligte aan indien nodig

Veilige bestuurders ry met hulle kopligte aan wanneer sigbaarheid swak is, soos wanneer dit reën, tussen sononder en sonopkoms of wanneer jy nie verder as 150 m voor jou kan nie sien nie.

5. Laat jou bande, olie en water gereeld nagaan

Maak dit ’n gewoonte om jou banddruk, olie en water te laat nagaan wanneer jy brandstof ingooi. Olie verminder die gevaar van wrywing aan jou enjin, en om seker te maak dat jou motor genoeg water het, is ’n belangrike deel van motorinstandhouding. Moet ook nie nalaat om jou banddruk na te gaan voordat jy ver ry nie.

6. Moenie dronk bestuur nie

Die gevare van dronkbestuur is legio en die meeste mense sal saamstem dat dit ’n slegte idee is om na te veel drankies agter die stuur te klim. Jy loop nie net die gevaar om by ’n padblokkade voorgekeer te word en die naweek in ’n sel deur te bring nie, maar as jy onder die invloed bestuur, stel jy ander mense (in die motor en op die pad) in gevaar. Veilige bestuurders maak eerder van ’n taxi gebruik of neem ’n Uber huis toe.

Lees: 4 wenke vir ’n veiliger Uber-rit

7. Wees paraat en bewus van jou omgewing

Daar is verskeie dinge wat ons paraatheid affekteer wanneer ons bestuur, en moegheid is een daarvan. Wanneer jou volle aandag nie op die pad is nie, kan jy nie op skielike situasies reageer wat maklik vermy kon word nie.

8. Stel die musiek sagter

Jy bestuur dalk op jou lekkerste wanneer die musiek deur jou ryding pols, maar dit kan ’n groot afleiding en baie gevaarlik wees. Harde musiek belemmer ’n bestuurder se vermoë om op enige skielike of onverwagse bewegings of insidente op die pad te reageer.

9. Dra altyd jou veiligheidsgordel

Die wet stel dit duidelik dat dit by die motorbestuurder berus om te sorg dat alle passasiers vasgegordel is. Om ’n sitplekgordel te dra is die eenvoudigste manier om jou lewe te spaar en ’n goeie bestuurder sal daarop aandring dat almal in die motor hulle vasgordel.

10. Flikkerligte en blinde kolle

Daar is niks so frustrerend soos ’n bestuurder wat skielik draai of van baan verwissel sonder om roetineprosedures te volg nie. Wanneer jy jou flikkerlig gebruik voordat jy draai, weet ander bestuurders wat jy gaan doen en handhaaf hulle ’n veilige volgafstand. Om in blinde kolle te kyk is dalk ’n beslommernis, maar jou blinde kol is ’n area wat nie in jou tru- of kantspieëltjies gesien kan word nie.

Uit: WOW

FOTO: iStock/funduck

LEES OOK:

Wenke om veilig in die reën te bestuur

4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

Vliegtuigetiket 101

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die 10 bekostigbaarste motors in SA

Is jy op die uitkyk na ’n nuwe sakpas motor?

Close