×
Skakel na Engels

10 feite oor hartaanvalle waarvan elke vrou moet weet

Slegte spysvertering? Dit kan op ’n ernstiger kwaal dui …
hartgesondheid

Dokters vind al hoe meer dat vroue se hartaanvalle nie so drasties soos mans s’n is nie, wat beteken dat die simptome maklik misgekyk word. Dís wat jy alles moet weet:

1. Dis ’n groter gevaar vir jou gesondheid as wat borskanker is

Verbaas om dit te hoor? Óns was, en ons dink nie ons is die enigstes nie. Twee-vyfdes van vroue sê hulle is nie bekommerd oor hartsiekte nie, en tog veroorsaak dit meer as dubbel soveel sterftes onder vroue as wat borskanker doen.

Onlangse navorsing toon boonop dat vroue ná ’n hartaanval 50% meer as mans verkeerd gediagnoseer word, en dat hul langtermyngevolge erger is. Hoekom? Selfs mediese kenners dink nie dadelik aan ’n hartaanval nie. “Hulle is meer geneig om die simptome eers aan iets anders toe te skryf,” sê dr. Sarah Clarke van die Britse kardiovaskulêre vereniging. “Dit is dus belangrik dat alle vroue weet watter simptome om na uit te kyk.”

2. Spoedige diagnose is noodsaaklik

“Vroue maak dikwels asof hul simptome nie so erg is as wat dit werklik is nie en hulle blameer dit gewoonlik op iets anders. Dit beteken dat belangrike diagnoseringstyd vermors word en dat vroue langer neem om mediese sorg te kry, wat tot swakker resulate lei,” sê dr. Clarke.

Sweedse navorsers het bevind dat vroue sê hulle stel dokters- of hospitaalafsprake uit omdat hulle te besig is om na ander mense om te sien. Hoe langer dit neem om ’n hartaanval te diagnoseer of te behandel, hoe erger en meer permanent kan die skade aan die hart wees.

In ’n studie aan die Yale Public School of Health is bevind dat veral jong vroue die vroeë tekens van ’n hartaanval ignoreer – wat sal help veruidelik waarom jong vroue meer geneig is om van hartaanvalle te sterf as wat mans van dieselfde ouderdom is.

Lees ook: Hoekom dokters nie van selfdiagnosering via die internet hou nie 

3. Jonger vroue moet ook oplet na die waarskuwingstekens

Vergeet van die idee dat ’n hartaanval iets is wat net met ouer mans en vroue (soos in hul 70’s en 80’s) gebeur. Ja, dit ís meer algemeen onder ouer vroue – voor hul menopouse word vroue nog deur estrogeen beskerm, maar wanneer estrogeenvlakke daal kan dit tot ’n toename in cholesterolvlakke lei en witbloedselle kleweriger maak, wat beteken dis meer geneig om aan die binnekant van bloedvate vas te kleef.

Maar jong vroue – selfs dié wat nog ver van hul menopouse af is – kan ook deurloop. Ons weet dat toestande soos hoë bloeddruk, tipe 2-diabetes en hoë cholesterol, wat alles jou risiko vir hartsiekte verhoog, drasties aan die toeneem is, en by vroue onder 50 is die kans dat ’n hartaanval dodelik is, dubbel so hoog as by mans.

Lees ook: Alles wat jy van vroeë menopouse moet weet 

4. Vind meer uit oor jou familiegeskiedenis 

Oefening en ’n gesonde dieet sal help om jou te beskerm, maar ’n familiegeskiedenis van hartsiekte is net so relevant vir ’n vrou as wat dit vir ’n man is. As jy ’n pa of ’n broer het wat ’n hartsiekte voor die ouderdom van 55 ontwikkel het, of ’n ma of ’n suster wat dit voor 65 gekry het, is jou eie risiko beduidend hoër.

5. Borspyne is maar net die oortjies van die seekoei

Ons is almal bekend met die klassieke hartaanvalsimptoom van erge borspyn, maar vroue kry dikwels baie minder drastiese simptome. “Vroue se simptome is moeiliker om te diagnoseer – dis dikwels maagprobleme, naarheid en selfs moegheid,” sê dr. Clarke.

Vroue se simptome word dus baie keer misgekyk of verkeerd gediagnoseer. Navorsers aan die nasionale gesondheidsinstituut van die VSA het bevind dat 95% van vroue nuwe of ander fisieke simptome ervaar het tot en met ’n maand voordat hulle ’n hartaanval gehad het. Byna 75% van hulle het gesê hulle het buitengewone moegheid ervaar en amper die helfte het gesukkel om te slaap en was ook kort van asem. 

Simptome kan een of meer van die volgende wees:

1. Pyn of ongemak in die bors;

2. Pyn wat na die arms, nek, kaak, maag en rug versprei – vir party is die pyn ondraaglik, maar vir ander is dit net ongemaklik;

3. Iets wat soos slegte spysvertering of refluks voel;

4. Jy voel siek, sweterig, kort van asem of lighoofdig wanneer die pyn of ongemak in jou bors toeneem;

5. Jy voel in die algemeen siek of tam en het dikwels pyn of ongemak in jou bors.

6. Party vroue se risiko is selfs hoër as mans s’n

As jy ’n roker is, verhoog jy jou risiko vir ’n hartaanval selfs meer as wat ’n man doen deur te rook. Diabetes verhoog ook vroue se risiko meer as mans s’n – dit verdubbel mans se risiko, maar vir vroue is die gevaar vier keer so groot.

7. Dis baie belangrik om jou stres te hanteer

Chroniese stres kan net so ’n groot uitwerking op jou risiko hê as wat hoë bloeddruk en rook het, sê navorsers aan die Harvard- mediese skool. Hulle het bevind dat stres gedurig ’n rits aktiwiteite in die amigdala skep, wat die deel van jou brein is wat emosies verwerk.

Dit stuur dan seine na die beenmurg om ekstra witbloedselle te vervaardig, wat inflammasie kan veroorsaak. Hoewel daar nog navorsing hieroor gedoen moet word, kan te veel stres ook ander gevolge hê. “Dit beteken jy is meer geneig om ’n sofapokkel te word en meer te rook en drink, wat alles jou risiko verhoog,” sê dr. Clarke.

Lees ook: 3 minder bekende simptome van ’n hartaanval

8. Vroue word anders aangetas

Baie van die huidige inligting oor hartsiekte en die behandeling daarvan is op studies van mans gegrond. Navorsers begin nou maar eers om die biologiese en mediese verskille in vroue se hartsiektes te ontdek, asook die verskille in hul reaksie op behandeling.

Dit word al hoe duideliker dat vroue geneig is om probleme in die mikrovaskulatuur te ontwikkel – dis daardie piepklein bloedvate wat uit die groter kroonslagare vertak. Hartsiekte ontstaan gewoonlik weens ’n verstopping of vernouing van die hoofare wat na die hart lei.

Met koronêre mikrovaskulêre siekte word die klein bloedvate op só ’n manier beskadig dat dit spasmas veroorsaak en bloedvloei na die hartspier verminder. Dit kan moeiliker wees om te diagnoseer omdat dit nie deur standaardtoetse opgemerk word nie. 

“Vroue kan simptome van hartsiekte hê selfs al blyk hul kroonslagare normaal te wees, en só kan ’n onderliggende kwaal vir ’n lang tyd in die liggaam sluimer,” sê dr. Clarke. Hoe kan dokters dus hierdie afwyking by vroue opspoor? Probleme in die kleiner are kan met behulp van ’n MRB (magnetieseresonansiebeelding) opgespoor word, of deur ’n eggokardiografiese strestoets wat ultraklankbeelding gebruik om vas te stel hoe doeltreffend jou hart werk.

Daar kan ook ander faktore wees wat vroue se geval anders maak. Navorsers aan die University College London het verlede jaar ’n spesifieke weergawe van ’n geen ontdek wat sekere vroue se risiko vir hartsiekte en beroerte kan verhoog – dit blyk nie dieselfde uitwerking op mans te hê nie. 

9. Die diagnose vir vroue kan ook anders wees

’n Studie deur die Britse hartstigting het bevind dat ’n nuwe, hoogs sensitiewe “troponien”-bloedtoets noodsaaklik kan wees in die diagnosering van hartaanvalle by vroue. Toe die navorsers na 1 000 mans en vroue gekyk het wat met borspyn in die hospitaal opgeneem is, het dié sensitiewer toets die diagnose vir hartaanvalle onder vroue verdubbel.

 

10. Vind nóú uit hoe jy jouself kan beskerm

Besoek jou huisdokter om jou ware hartouderdom te laat vasstel en vir raad oor hoe jy jou risiko vir hartsiekte kan verlaag. Almal bo die ouderdom van 40 moet elke vyf jaar vir ’n volledige gesondheidsondersoek gaan. Dit is juis ontwerp om vroeë tekens van hartsiekte, beroerte, niersiekte, tipe 2-diabetes en demensie op te spoor. 

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/m-gucci

LEES OOK:

4 eetvoorskrifte wat hartdokters volg 

4 dieetmites wat dokters wil hê jy moet ophou glo 

3 maniere om oefening by die werk in te pas 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief