×
Skakel na Engels

10 fantastiese kookwenke vir jou prutpot

Vermy só ’n smaaklose, vaal aandete. Deur Monaz Dumasia
prutpot

’n Prutpot is ’n staatmakertoestel in soveel huise en is gewild vir die geriefsfaktor en ook omdat dit so maklik is om te gebruik. Maar soms kan die resultaat ’n waterige flop wees! Volg hierdie gids om die maksimum geur uit jou prutpot te verkry en om daardie flaters te vermy …

1. Kry ’n bietjie kleur

Hoewel die prutpot juis geprys word omdat ’n mens net alles daarin kan “gooi”, gaan hierdie kookmetode nooit dieselfde intensiteit verkry wat so eg aan ’n fantastiese oondgebakte gereg is nie. As jy tyd het, braai eers jou vleis en groente in ’n pan om ’n bietjie kleur te kry en jou gereg dus ’n bietjie geuriger te maak.

2. Wees suinig

Die gedagte aan vet en senings kan jou dalk laat gril, maar hierdie kombinasie in goedkoper vleissnitte is werklik nie so taai wanneer dit stadig in die prutpot gaar word nie, veral nie as jy die vleis eers vooraf bruin braai nie. Die gelatien wat vrygestel word namate die senings gedurende die kooktyd afbreek, verryk en verdik ook die kookvloeistof.

3. Gee aandag aan aftreksel

Dit is baie algemeen om die prutpot se deksel ná agt uur se kooktyd af te haal net om ’n vaal, sopperige storie te kry. Dis omdat prutpotte se deksels die stoom beter as gewone kasserolbakke vasvang. Die vloeistof kook dus nie natuurlik af nie. Halveer die hoeveelheid vloeistof wat aan die begin bygevoeg word om die geure te versterk.

4. Sif dit!

As daar te veel kookvloeistof is, hoef jy nie met lang tande aan ’n smaaklose, vaal bredie te eet nie. Giet die bredie deur ’n vergiettes in ’n groot pan (behou die vleis en groente), laat die vloestof oor hoë hitte prut en proe af en toe totdat die smaak geurig genoeg is.

5. Verminder die alkohol

Moenie wyn direk in die prutpot giet nie. Die alkohol kook nie weg nie en jou maaltyd sal dus ietwat onaangenaam smaak. Giet die wyn in ’n aparte kastrol, kook dit totdat die vloeistofvolume met die helfte verminder het en giet dit dan in die prutpot.

6. Voeg die “byt” op die regte tyd by

Gedroogde, geurige speserye soos komyn en koljandersaad moet eers in olie gebraai word en aan die begin van die resep bygevoeg word omdat dit tyd vat om die geur vry te stel. Branderige rissiegeurmiddels moet laaste na smaak bygevoeg word omdat die branderigheid oor ’n lang kooktyd kan vererger.

7. Wees knap met kruie

Soos met speserye, is daar twee reëls om die beste geur uit kruie te verkry: Gedroogde, houtagtige kruie (soos roosmaryn en tiemie) word aan die begin bygevoeg sodat dit kan sag raak en hul geur en olies kan vrystel. Sagte, vars kruie soos basilie en koljander moet net voor opdiening bygevoeg word omdat die delikate geure tydens die kookproses vernietig word.

8. Die vyfde element

Umami-geurmiddels is ideaal vir prutpotgeregte. Worcestersous verleen geur aan ’n beesvleisgereg en soja verryk tamatiegeregte.

9. Wees soet

Suiker verryk souterige kos en verleen daardie “ietsie ekstra” wat dikwels kortkom. ’n Klein bietjie bruinsuiker, heuning, blatjang of marmelade balanseer die geure uit en komplementeer vleis- én groentegeregte.

10. Alles op die regte tyd

Soos met ’n geoefende orkes is dit belangrik om verskillende bestanddele op die regte tyd by te voeg om jou bredie in die volmaakte simfonie, eerder as ’n papperige kakofonie te omskep. Bruingebraaide vleis en groot stukke knolgroente gaan eerste in, dan sagter groente en koolhidrate (of sit laasgenoemde as ’n bygereg voor).

FOTO: iStock/a_namenko

Van Good Housekeeping UK

LEES OOK

Stoompot of prutpot – watter een is beter?

3 manjifieke dog maklike maniere om jou prutpot behoorlik skoon te maak

6 resepteboeke

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Vegetariese geregte vir die hele week!

’n Hele week van heerlike en geurige vegetariese etes? Ons belowe jy sal nie eens die vleis mis nie!

Close