×
Skakel na Engels

10 Facebook-etiketreëls wat jy altyd moet nakom

As jy onseker is, volg altyd die goue reël. Deur Jessica Mattern

 

Die manier waarop jy met jou vriende, familie en kontakte op Facebook omgaan, kan ’n groot invloed op jou aanlyn en aflyn verhoudings hê. Volg hierdie riglyne om seker te maak dat jou sosialemedia-gedrag beleefd en sinvol is, en basiese ordentlikheid weerspieël.

1. Toon altyd respek, veral wanneer jy oor politiek praat

Dis alles goed en wel om jou politieke oortuigings te deel — en selfs van jou vriende, familie en netwerk te verskil — solank jy dit met goeie maniere doen. “Moenie iemand anders se intelligensie of integriteit bevraagteken nie,” het die etiketkenner en outeur van Manners in a Digital World aan Business Insider gesê. “Hou die argument by die situasie of kwessie, nie die persoon met wie jy gesels nie.”

2. Hou op kla

’n Gesanik oor jou lewe is die tweede mees irriterende Facebook-oortreding, volgens Real Simple. Moet nooit op sosiale media oor jou werk of kollegas kla nie. Jy weet nooit wie dit gaan sien nie, selfs al het jy die strengste privaatheidverstellings. En moenie oor jou alledaagse lewe kla nie. “Niemand hou van ’n klakous nie,” het Anna Post, die outeur van Emily Post’s Etiquette, vir Forbes vertel. Jou vriende wil nie ’n spul Neulende Nellas in hul Facebook-stroom sien nie. Dit is irriterend, onsmaaklik en die ergste van alles — jy is eintlik besig om jouself te verneder.

3. Waak teen ’n “nederige gespog”

Daar is niks erger as vriende wat foto’s van hul nuutste aankope, vakansie of prestasie plaas en probeer om beskeie daaroor te klink nie. Jy wil dalk met jou vriende deel dat jy geseënd is en opreg waardeer wat jy het, maar niemand hou van iemand wat sy eie beuel blaas nie.

4. Deel groot nuus altyd éérs met vriende en familie

Verlowings, swangerskappe, ’n nuwe werk, geboortes, egskeidings, sterftes en enige ander groot lewensgebeurtenis of nuus behoort telefonies oorgedra te word voordat dit in die openbaar aanlyn gedeel word. Dit is onpersoonlik sowel as onsensitief om hierdie stap oor te slaan en geliefdes kan gekrenk voel. Net so moet jy liefs nie iemand in die openbaar geluk wens voordat hulle hul nuus self op sosiale media gedeel het nie. Moet ook nie oorhaastig ’n rus-in-vrede-boodskap plaas tensy jy seker is dat dit die oorledene se naaste familie se goedkeuring wegdra nie. Moenie dáái persoon wees wat met die mandjie patats uitkom voordat jou vriende die geleentheid gehad het om die aankondiging te doen nie.

Lees: Behoort jy foto’s van jou kinders op Facebook te plaas?

5. Bevestig en evalueer die oorspronklike bron voordat jy iets deel

Jy voel dalk dat ’n sekere storie eenvoudig gedeel móét word, maar dit kan onsensitief of opsetlik onakkuraat wees. Weerstaan die versoeking om fopnuus (soos valse berigte of skelmstreke), bedrog of potensieel aanstootlike stories te deel voordat jy eers ’n bietjie navorsing gedoen het. “Dit geld veral sensasionele inhoud, wat onskuldig klink, maar ’n onvanpaste bladnaam of beskrywing kan bevat,” skryf die etiketkenner Diane Gottsman op haar blog.

6. Moenie foto’s van iemand anders se kinders plaas nie

Sommige ouers en gesinne heg groot waarde aan hul privaatheid, en daarom moet jy altyd toestemming vra voordat jy iets plaas. “Mense het digitale grense vir hul gesinne en dit moet gerespekteer word,” het die etiketkenner Lizzie Post aan Today.com gesê. Dit is boonop teen die reëls. Om foto’s van ’n kind jonger as 13 jaar sonder die ouers se toestemming op Facebook te plaas, is ’n skending van Facebook se privaatheidsregte. Jy het die reg om die plaser deur Facebook te vra om die foto te verwyder.

7. Skakel outomatiese plasings van ander sosialemedia-platforms af

Jou Facebook-vriende volg jou waarskynlik ook op Instagram, Twitter en Pinterest. Moet hulle dus nie met plasings oorweldig wat hulle reeds gesien het nie deur hierdie vinnige verandering aan te bring.

8. Moet nooit onvleiende foto’s deel nie

Kom ons hou by die goue reël: Behandel ander soos jy wil hê hulle jou moet behandel. Sal jy daarvan hou as iemand ’n vernederende of onvleiende foto van jóú deel?

Lees: 5 wenke hoe om die beste selfies nóg te neem!

9. Moet nooit slegte nuus “like” nie

Dit maak nie sin om op die “hou van”-ikoon te kliek wanneer iemand die dood van ’n geliefde, ’n egskeiding, gesondheidsprobleme of enige hartseer of slegte nuus plaas nie. Gebruik die toepaslike reaksie-ikoon, of nog beter, reageer met ’n bedagsame opmerking op die plasing. “Maak van ’n opmerking gebruik om jou gedagtes te deel. Dan ontvang die persoon ’n persoonlike boodskap van ’n individu wat vir hulle iets beteken, pleks van ’n ‘like’ wat verwarrend kan wees,” het Ravi Shikle, ’n sosialemedia-kenner, aan MEL Magazine gesê. “As jy voel dat ’n Facebook-‘like’ of opmerking nie regtig jou gevoelens oordra nie, is dit tyd om op ’n persoonlike vlak uit te reik.”

10. Reageer op tragedies met ’n eenvoudige, simpatieke boodskap

Jy kan gerus jou simpatie ná ’n terroriste-aanval of natuurramp uitspreek, maar hou in gedagte dat dit nie die geleentheid is om aan jou politieke standpunte, uitsprake of klagtes uiting te gee nie. ’n Direkte stelling wat betrokke partye bemoedig, werk die beste. “Hou dit eenvoudig met iets soos: ‘Ons dink vandag aan Kaapstad’,” skryf die etiketkenner Margaret Page op haar blog.

Foto: iStock/tolgart

Uit: Country Living

LEES OOK:

Is tronkstraf ons voorland vir Facebook-foto’s van ons kinders?

6 maklike maniere om jou privaatheid aanlyn te beskerm

7 dinge wat jou tiener wil hê jy nié op sosiale media moet doen nie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Voltooi dié vraelys en jy kan ’n Kaspersky Lab-pakket WEN!

Ons moet almal onsself teen kubermisdaad beskerm

Close