×
Skakel na Engels

10 eenvoudige wenke om elke keer die BESTE brownies te bak!

Brownies bly ’n gewilde lekkerny, mits jy dit eksie-perfeksie bak! Deur Monaz Dumasia
brownies

Brownies is ’n taamlik eenvoudige lekkerny, maar bak jy hulle te lank, verloor jy die taai fudge-erigheid wat van hulle so ’n treffer maak. Hier is ons 10 bobaaswenke vir die volmaakte brownies, wat om met ’n verbroude baksel te doen (leidraad: dit het iets met ’n heerlike koekstruif te make) en ’n paar briljante idees om jou brownies ’n gourmet-kinkel te gee.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Begin reg

Die verskil tussen ’n ongelooflike en ’n so-so brownie kom hoofsaaklik op bestanddele op. Gebruik goeie donker sjokolade (hoe hoër die kakao-inhoud, hoe intenser die geur), gehalte-kakaopoeier, en gebruik botter in plaas van margarien vir ’n ryker eindproduk.

2. Kies die regte resep

Sommige mense hou van ligte brownies met ’n koekerige tekstuur; ander hou van hul brownies taai en dig. As jy tot die eerste kamp behoort, kies ’n resep wat kakaopoeier in plaas van gesmelte sjokolade gebruik en ’n groter verhouding meel bevat. As jy ’n taaier weergawe verkies, hou by resepte waar die verhouding van gesmelte sjokolade, botter en eiers hoër as die res van die bestanddele is.

3. Plan B

Soms loop dinge skeef en gebeur dit dat die olie of botter van die beslag skei sodat jou gebakte brownies korrelrig en vetterig is. As dit gebeur, kan jy ’n bietjie melk inroer om die mengsel weer te bind.

4. Wees altyd voorbereid

’n Ongesmeerde pan lei tot brownies wat vassit en uitmekaarval wanneer jy dit probeer uithaal. Maak tyd om die pan met kleefvrye bakpapier uit te voer sodat die brownies maklik uitlig.

5. Perfekte tydsberekening

Brownies is sensitiewe wesens – los jy hulle ’n paar minute te lank in die oond, sal jy van hul lieflike klammigheid moet afsien. Moenie van die baktyd afwyk nie; toets jou brownies so vyf minute voordat jy hulle moet uithaal. Oorgaar brownies is egter nie die einde nie. Jy kan die baksel met ’n laag sjokoladesmeer of -versiersel bedek voordat jy dit sny, of, indien dit nie meer net so geëet kan word nie, kan jy dit in roomys krummel of as ’n basis vir ’n koekstruif gebruik.

6. Afkoelkans

Om brownies dadelik te sny wanneer dit uit die oond kom, gaan ’n gemors afgee. Om netjiese porsies te verseker beveel ons aan dat jy die brownies eers in die pan laat afkoel en dan vir ’n uur of wat in die yskas los. Nou kan jy dit mooi netjies sny!

7. Maak hulle suiwelvry

Aangesien die botter in brownieresepte amper altyd gesmelt word, kan jy dit oorweeg om dit met olie te vervang, maar jy gaan minder nodig hê. Bereken ¾ van die botter se gewig en gebruik daardie hoeveelheid in olie. Neutolies, soos okkerneut en haselneut, verleen ’n besonder gesofistikeerde geur aan jou brownies.

8. Probeer iets nuuts

Neute, sjokoladesplinters en droëvrugte het reeds hul slag as pasmaats vir die donker klammigheid van brownies gewys. Sjokolade werk ook goed met pikante en souterige smake. ’n Paar gekapte stukkies spek in die beslag is ’n verrassende, maar smullekker toevoeging en ’n knippie gedroogde brandrissievlokkies sorg vir ’n bietjie byt.

9. Maak ’n verrassende vulsel

Vir ’n onverwagse krakerigheid in jou brownies kan jy die helfte van die beslag in die pan uitkeer, dit met ’n laag van jou gunsteling-koekies (heel gevulde sjokoladebeskuitjies of gekrummelde amaretti-koekies werk goed) bedek, die res van die beslag bo-oor smeer, en dit dan bak.

10. Dink buite die boks

Jy hoef jou brownies nie altyd in hul gewone pan te bak nie. Bak die beslag in ’n kolwyntjiepan (silikoonpanne werk goed, want hulle hoef nie met papier uitgevoer te word nie) vir oulike individuele poedings. Onthou net dat die baktyd korter gaan wees.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/eddieberman

LEES OOK:

Brownies met 3 bestanddele

5 fantastiese gebruike vir bakpapier in die kombuis

7 geheime om soos ’n kenner te bak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Roomkaas-marmerbrownies

Pak 'n paar van hierdie heerlike happies in jou kind se kosblik vir 'n sjokoladebederfie vir pouse! Pak ’n paar...

Close