×
Skakel na Engels

10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

Om jou kinders met take en verantwoordelikhede te vertrou, maak nie net jóú lewe makliker nie – dit is ook goed vir hulle!
tieners

Wanneer kinders iets op hul eie regkry of ’n nuwe vaardigheid aanleer, versterk dit hul selfbeeld en berei dit hulle voor op volwassenheid. “Om onafhanklikheid vir kinders te leer, begin nie eers wanneer hulle 14 is nie,” het Kathy Lynn, ’n rubriekskrywer oor ouerskap, aan Today’s Parent in die VSA vertel. “Dit begin deur hulle op drie jaar self te laat aantrek, en op nege van hulle te verwag om hulle klere vir’n gesinsvakansie te help inpak.”

Hier is 10 dinge wat jou kinders self behoort te kan doen teen die tyd dat hulle tieners is:

1. Hulle moet hul eie klere kan was

Tot op 11 jaar kan jy hulle eenvoudiger take gee soos om vuil klere vir jou te bring, skoon items op te vou en te gaan bêre. Gee hulle meer verantwoordelikheid sodra hulle daardie takies bemeester. Teen die tyd dat hulle 12 is, behoort hulle te weet hoe om ’n wasmasjien te gebruik, sê Kathy. 

2. Hulle moet hul eie geld verdien en bestuur

Tieners behoort die waarde van geld te ken en te weet hoe om basiese finansies te bestuur. “Jou kind moet begin besef dat wanneer mense meer as hul plig doen, hulle daarvoor beloon word,” het Danny Kofke, die outeur van A Bright Financial Future: Teaching Kids About Money Pre-K Through College for Life-Long Success! aan Learnvest.com gesê. Jou tiener behoort ’n depositostrokie te kan invul en ander basiese hulpmiddels vir finansiële bestuur te kan gebruik.

3. Hulle moet kan kosmaak

Of dit nou is om hulle eie middagete aanmekaar te slaan, ’n peuselhappe te berei of selfs ’n eenvoudige ete vir die hele gesin te kook, jou tiener behoort hom- of haarself in die kombuis te kan help. “Teen die tyd dat jou kinders hoërskool toe gaan, behoort hulle regtig alles te kan doen wat hulle eie sorg betref, indien dit sou nodig wees,” het Julie Lythcott-Haims, die outeur van How to Raise an Adult: Break Free of the Overparenting Trap and Prepare Your Kid For Success aan Parenting.com gesê. “Ek sê nie jy moet ophou om vir jou kinders aandete te maak nie, maar jy behoort genoeg vertroue te hê om jou kinders self ontbyt of middagete te laat maak.”

4. Hulle moet hul huiswerk kan organiseer en afhandel

Tieners behoort hulle eie werkslading te organiseer, sperdatums te haal, en opdragte sonder hulp of aanmanings van hulle ouers te voltooi. “Te veel ouers probeer die korttermynsukses van beter uitslae bereik deur die kind se wiskunde oor te doen of die opstel oor te skryf,” het Julie aan Today.com gesê.

“Die korttermynsukses van beter uitslae lei tot die langtermynverlies van kinders wat dink dat hulle niks sonder hulle ouers se hulp kan doen nie. Hulle word jong volwassenes wat oorweldig voel omdat hulle nie die vermoë het om self te dink, doen en beplan nie.”

5. Hulle moet hoflik en met respek teenoor volwassenes optree

Dit sluit nie net onderwysers, afrigters, vriende en familie in nie, maar ook mense wat hulle nie ken nie, maar met wie hulle moontlik sal kommunikeer, soos diensverskaffers. “Ons leer ons kinders dat hulle nie met vreemdelinge mag praat nie, maar in werklikheid moet ons hulle leer om tussen die een gevaarlike vreemdeling en die oorgrote meerderheid goeie mense te onderskei,” sê Julie. 

Lees ook: 5 dinge wat ouers nie in eksamentyd moet doen nie

6. Hulle moet ’n noodgeval kan hanteer

Tieners behoort die ergste moontlike scenario’s te kan hanteer, soos besoeke aan ongevalle, motorongelukke en ander situasies. Behalwe dat hulle moet weet wie om in ’n krisissituasie te kontak, behoort jy hulle na die plaaslike polisiestasie toe te neem om ’n beampte te ontmoet.

Die persoon kan hulle vertel hoe om in ’n ongeluk of ander noodsituasies op te tree. “Jou kinders sal waarskynlik eerder na ’n polisiebeampte as na hulle ma luister,” het Neale Godfrey, hoof van die GreenStreet Commons, aan die Washington Post gesê.

7. Hulle moet hul omgewing leer ken

Jou tieners sal binnekort self bestuur. Hulle behoort dus die uitleg van hulle tuisdorp te ken, en te weet hoe om openbare vervoer te gebruik indien nodig.

8. Hulle moet weet wanneer om fooitjies te gee

Om fooitjies te gee is nie net deel van ons kultuur nie; dit is ook ’nwaardevolle manier om ons kinders goeie maniere te leer en te wys dat harde werk beloon moet word. Maak seker hulle weet wanneer en hoeveel om te gee.

9. Hulle moet soggens self opstaan

Tieners is heeltemal in staat om soggens self wakker te word, en indien hulle die sluimerknoppie te veel keer druk, sal die gevolge hulle vinnig inhaal. “Ek het van kleins af van my kinders verwag om op vroeë skoologgende self op te staan,” het Amy Carney, ’n ouerskapkenner en ma van vier, aan Red Tricycle gesê.

“Daar is dae wanneer een uit die kamer gestorm kom net voordat ons moet ry. Die sluimerknoppie voel nie meer soos ’n luukse wanneer dit maak dat jy ontbyt misloop nie.”

10. Hulle moet kan huisskoonmaak

Huishoudelike take, insluitend skoonmaak en opruim, sal tot jou kind én huis se voordeel wees. “Dit is ’n wonderlike manier om verantwoordelikhede te delegeer en die huishouding te laat vlot,” het Stephanie O’Leary, ’n kliniese sielkundige en die outeur van Parenting in the Real World aan WomansDay.com gesê. “Daar is niks beter as ’n kind wat voel dat hy of sy tot ’n taak bydra waaraan die hele gesin deelneem nie.”

Van: Good Housekeeping US

FOTO: iStock/DGLimages

LEES OOK:

Maandelikse rubriek: Maak bekwame kinders groot

14 tekens dat jy ’n goeie ouer vir jou tieners is

7 dinge wat jou tiener wil hê jy nié op sosiale media moet doen nie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Word jou kind deur ’n opvoeder geboelie?

Dis nie net kinders wat boelies op skool is nie

Close