×
Skakel na Engels

10 dinge wat jou tieners moet weet voordat hulle die Rage-fees bywoon

Ná 12 jaar op skool en met al die stres van eksamens sal jou tieners vir jou sê hulle verdién die pret by die jaarlikse Rage-fees vir matrieks in Umhlanga, Ballito of Plett. Bewapen hulle met inligting sodat hulle veilig partytjie kan hou – en jy beter kan slaap. Vertel hulle die volgende:
rage

1. Kry ’n paspoort

’n Rage Festival Passport (vanaf R800 vir ’n Rage Lite Passport tot R4 200 vir ’n Rage Black Passport) verleen toegang tot alle geleenthede (hoofverhoog) en gratis of goedkoper toegang tot partytjies ná die tyd en vervoer met pendelvoertuie.

As jy beplan om vir langer as vyf dae partytjie te hou, is dit ’n beter opsie as om vir toegang tot individuele geleenthede te betaal – maar die grootste pluspunt is dat jou Passport-armband by elke venue geskandeer word en outomaties jou Facebook-status opdateer. Dit maak dit makliker om vriende op te spoor as julle geskei word – of vir jou ouers om te sien waar jy is en beter te slaap.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

2. Dink vooruit

Jy kan dalk ongeoorloofde en gevaarlike middels aangebied word – hoekom die toekoms waarvoor jy so hard geleer het, in gevaar stel deur daardie een keer iets doms te doen?

“Dwelms is onwettig en oortreders wat by die fees daarmee betrap word, sal aan die polisie oorhandig word,” sê die Rage-organiseerder Igor Najbicz. Onthou, ’n dwelmgeskiedenis kan jou reisvooruitsigte in die toekoms inperk, want baie lande weier visums aan aansoekers met ’n misdaadgeskiedenis.

3.  Iemand kan jou drankie dokter

Dis ’n werklikheid dat iemand jou drankie kan dokter, sê John Busvell, die uitvoerende hoof van Rape Wise. Hou ’n ogie op mekaar, gaan saam badkamer toe en kry hulp die oomblik dat een van julle sleg voel.

Moenie drankies van vreemdelinge aanvaar nie, drink net iets wat jy self oopgemaak het of wat jy gesien het hoe dit oopgemaak en geskink is, en vermy ysblokkies – sommige kroegmanne kan dit dokter, sê hy. As jy jou drankie los en gaan dans, moenie weer daarvan drink nie. Koop eerder ’n ander drankie.

 4. Onthou hoeveel jy drink

Drank vloei dag en nag, en as jy nie gewoond aan drank is nie, kan jy dit maklik oordoen – en blootgestel word aan onveilige seks, ongelukke of ’n babalas wat jou hele Rage-ervaring kan ruïneer. Besluit elke aand vooraf hoeveel drankies jy gaan drink, eet voordat jy uitgaan, drink baie water en bly by jou vriende.

5. Kry die app

Laai die Rage Festival-app af. Dis gratis vir gebruikers van Android-fone en iPhones. Dit lys noodnommers indien iets sou skeefloop en bevat al die nodige inligting oor die geleentheid, vermaak en vervoer.

“Vanjaar het ons Passport-armbande ook al jou noodkontakbesonderhede (siekefonds, ensovoorts), want die veiligheid van ons gaste geniet voorkeur,” sê Najbicz. Vul ook die nommers van belangrike kontakpersone (jou ouers en jou dokter) en inligting oor allergieë in jou selfoon se adresboek in onder ICE (in case of emergency) ingeval jy flou word of te siek of beseer is om te praat.

6. Hou kontak

Reël dat jy jou ouers elke dag SMS om te laat weet of jy oukei is, en doen dit – dit sal hulle gemoedsrus gee en keer dat hulle jou aanhoudend bel en jou in die verleentheid stel wanneer jy saam met jou vriende is.

7. Bly waar jy is

Maak seker dat jou ouers weet waar jy bly, en as jy ander blyplek kry, sê dit vir hulle – weer eens om te keer dat hulle bekommerd raak, en om jou die verleentheid te spaar as hulle dalk die polisie bel om jou op te spoor.

8. Jy bly jou ouers se baba!

Daar is geen “slegte tyd” om jou ouers te bel nie – as jy drieuur die oggend oor jou gebreekte hart wil huil, sal hulle verlig wees dat jy hulle om raad vra.

9. Nee beteken nee

Wees bewus van die “afhaak”-kompetisie, waar party seuns rondloop en elke aand soveel meisies as moontlik probeer soen – as hulle dit nie op ’n skadelose, prettige manier doen nie, meld dit aan – en enige ander gedrag wat hand uitruk.

10. Jou veiligheidsnet

Kyk uit na die Red Frogs, die legendariese ondersteuningsnetwerk wat Rage-partytjiegangers beskerm. Hulle sal vir jou gratis pannekoeke bak en water buite klubs uitdeel om jou gehidreer te hou, of gratis saam met jou huis toe stap.

“Ons is daar om in énige situasie te help. Teken dus ons nommer aan: 060 733 3764 of 060 REDFROG,” sê hul sosialemediabestuurder en vrywillige werker, Pippa Rowney.

LEES OOK:

5 lewenslesse om jou tieners te help om gemotiveerd te bly

10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

Maandelikse rubriek: Gevaar, tiener voor

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Brief aan my 15-jarige dogter

Hierdie brief van ’n ma aan haar dogter was so treffend, ons moes dit net deel

Close